Twee versmaaide SA agstemanne skitter oorsee

Waar Suid-Afrika blykbaar ʼn agsteman-droogte ervaar, is twee van die spelers wat deur Allister Coetzee in dié posisie oor die hoof gesien is, besig om groot indruk in Engeland te maak.

Die Springbok Nizaam Carr was die speler van die wedstryd toe Wasps in die jongste ronde van die Engelse Premierliga met 32-25 met Leicester afgereken het.

Carr, wat ook die beste drie in die wedstryd gedruk het deur ʼn spanpoging af te rond, is vir drie maande by Wasps, maar daar word reeds gehoop dat hy langer sal bly.

Sy vertoning word as briljant in alle opsigte bestempel.

Ruan Ackermann, wat al vir Suid-Afrika A gespeel het, se statuur groei luidens berigte weekliks, en hy word nou reeds beskou as ʼn moontlike Engelse (tweede op die wêreldranglys teenoor die Bokke se sesde plek) toetsspeler wanneer hy oor minder as drie jaar op verblyfgronde daarvoor in aanmerking kan kom.

Hy speel vir Gloucester, wat deur sy pa, die Bok Johan Ackermann, afgerig word, en wat ná sy jongste sege van 39-15 oor London Irish tweede op die punteleer is nadat hulle tot dusver sewe uit tien wedstryde gewen het. Die span was verlede jaar negende uit die 12 spanne in die reeks.

Die vaskopstut Petrus du Plessis, wat op Hermanus gebore is, het ʼn drie vir London Irish gedruk.

Don Armand, ʼn gewese Superrugbyspeler van die Stormers wat toetsrugby vir Engeland speel, was een van die groot uitblinkers vir Exeter in sy oorwinning van 42-29 oor Bath, en het ʼn drie gedruk.

Die Bok-senter Rohan Janse van Rensburg het ʼn drie vir Sale teen Worcester gedruk.

Sy span het die kragmeting met 18-14 gewen, ondanks die geel kaart wat sy Springbok-skrumskakel Faf de Klerk op die lyf geloop het. Brad Barritt, senter en kaptein, het ʼn drie vir Saracens gedruk nadat die Springbokstut Vincent Koch ʼn bres in Harlequins se verdediging geslaan het.

Barritt het Superrugy vir die Sharks en toetsrugby vir Engeland gepeel.

Quins het in die doodsnikke die sege met 20-19 beklink.

Pro14-liga

In die Pro14-liga het die flank Johan Meyer een van die Italiaanse klub Zebre se drieë in sy oorwinning van 24-10 oor die Ierse provinsie Connacht gedruk.

Hy het Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel.

Die Ierse provinsie Munster het die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) met 36-10 verslaan in sy eerste wedstryd sedert Johann van Graan, ʼn gewese hulpafrigter van die Bokke, by Rassie Erasmus oorgeneem het.

Chris Cloete, ʼn flank wat Suid-Afrika A verteenwoordig het, het een van die wenspan se drieë gedruk nadat hy geduik, maar nie vasgevat is nie. Hy het die losbal self opgeraap en gaan druk.

Engelse Kampioenskap

Twee Suid-Afrikaners het die telbord vir Ealing Trailfinders in sy oorwinning van 31-7 oor Hartpury College in die Engelse Kampioenskap help aanrol.

Rayn Smid (flank), wat Curriebekerrugby vir die Westelike Provinsie gespeel het, het ʼn drie gedruk, en die Suid-Afrikaans-gebore Luke Daniels (heelagter) het met drie doelskoppe geslaag.

Brendan Cope (heelagter), wat o.21-rugby vir die Sharks gespeel het, het twee doelskoppe tot Jersey se gelykop-uitslag van 19-19 teen Nottingham bygedra.

Ierse Liga

In Afdeling 1A van die Ierse Liga het die Suid-Afrikaanse stut Schalk Jooste die eerste van Terenure College se vyf drieë teen Young Munster gedruk.

Terenure het met 32-13 geseëvier.

Jooste is ʼn gewese kaptein van die WP-klub Tygerberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Wonderlike nuus vir my wanneer die Suid Afrikaans gebore spelers so presteer oorsee. Hul maak die pad oop vir nuwe blanke talent. Ek gaan my verstout om te sê dat n oorsese span saamgestel uit Suid Afrikaans gebore spelers, die Bella bokke sal klop met een hand agter die rug vasgemaak.

Vraagteken ·

Hi Eish, ek verstaan nie juis wat jy probeer sê nie. Hoe word ras betrokke (veral as daar in ag geneem word dat Caar nie-blank is nie)? Verstaan ek dit reg dat jy sê dat blanke spelers oorsee moet gaan speel, want dit is hoe ek dit interpreteer? Is daar ‘n motief agter jou stelling?

Deesdae publiseer Maroela hierdie tiepe artikels. Is dit ‘n manier om vir die afrigting te sê dat oorseese spelers gekies moet word, want almal in Suid-Afrika probeer juis so iets voorkom/vermy?

Awie Opperman ·

Die rugbykenners kan maar probeer om spelers hier te hou, dit sal nie werk solank as wat daar enigsins ingemeng word by spankeuses nie. Ongelukkig is blankes die enigste ras waarteen daar wettig gediskrimineer mag word en dis hoekom al hoe meer blanke spelers oorsee gaan speel. Die maklikste oplossing is om van grondvlak af net spelers op meriete te kies, dit sal die kwaliteit van rugby en ook die inkomste van unies vehoog, dan kan ons bekostig om ons spelers meer te betaal en SA se rugby tradisies red.

Vraagteken ·

Hi Awie, ek hoor jou. Maar dit is belangrik om te onthou dat ons huidige opdraf span nie oorheers word deur nie-blanke spelers nie. Laat ek jou ‘n paar voorbeelde gee:

Rohan Janse van Rensburg se posisie word deur Francois Venter bekleë in die springbok span,
Ruan Ackerman se posisie was deur Dan du Preez bekleë (hy het dit nie eers by die leeus bekleë),
Faf de Klerk word deur Ross Cronje bekleë, en die lys gaan aan.
Die punt wat ek will maak – die wit spelers se posisies word deur wit spelers in die Springbokke se span gevul!

Daardie spelers gaan nie oorsee omdat daar teen hulle gediskrimineer word (alhoewel ons almal daardie verskoning gebruik), hulle gaan oorsee vir geld!

Ek stem wel saam met jou, as ons die tradisies en trots kan hou, dan sal daardie spelers vir die SA Springbok span wil speel i.p.v. net geld. Dit is belangrik vir SA rugby om dit te besef.

Leon ·

Dis wonderlik en met sa se spelers wat oor die water speel kan mens n span bou wat enige internationale span kan probleme gee. Ek voel veral net ons 2 spanne eat nou oorsee meding moet ons n anderbeleid kry rondom spelers wat oorsee speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.