Tweede opinie laat Handré glimlag

Suid-Afrika se Handré Pollard.  Foto: Andy Buchanan/AFP.

Toe Handré Pollard ʼn kniebesering in die Rugbykampioenskap opgedoen het, is daar aanvanlik gevrees dat hy vir ʼn paar maande op die krukkelys sou wees.

Maar volgens Leicester Mercury laat ʼn tweede opinie die Springbok-losskakel glimlag.

“My lyf voel goed en dinge vorder mooi. Ja, daar is nog ʼn boksie of twee wat ek moet afmerk, maar ná die aanvanklike diagnose in Australië het ek ʼn tweede opinie in Londen gekry wat baie meer positief is,” het Pollard gesê.

Die 28-jarige nommertien het onlangs die skuif van Montpellier na Leicester gemaak en hy kon die afgelope naweek die aksie vanuit sy pawiljoensitplek dophou toe die Tigers vir Northampton Saints geklop het.

Volgens Pollard het hy ʼn klein meniskus-skeur opgedoen en indien alles volgens plan verloop kan hy binnekort sy terugkeer op die veld maak.

“Dit gaan baie goed en ek is optimisties oor die toekoms. Ek behoort ook gereed vir die Springbokke se jaareindtoer te wees.”

Die verwikkeling behoort veral goeie nuus vir Jacques Nienaber te wees. Die Springbokke se losskakel-spens was maar bra leeg en die 35-jarige Frans Steyn moes die afgelope naweek vir die eerste keer in 14 jaar die no. 10-trui op die internasionale verhoog dra.

Die Suid-Afrikaner is egter ook opgewonde om die Tigers-trui oor sy kop te trek.

“Ek wou nog altyd rugby in Engeland speel en toe ek die geleentheid kry het ek dit met al twee hande vasgegryp.”

Pollard sê dat verlede jaar se gesprek met Hanro Liebenberg ook sy besluit beïnvloed het.

“Hanro was baie eerlik en hy het vir my verduidelik waarom Leicester só ’n uitstekende klub is om voor te speel. Dit is ’n baie lekker vooruitsig om deel van ’n sterk span te word, maar die wete dat goeie spelers en vriende ook deel van die opset is, is ongetwyfeld die kersie op die koek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Agh nee man! Rerig? Jy gaan nou saam Europa toe? Agh nee man!

Niklaas ·

Ek dink Pollard is baie talentvol , mits hy fiks en gesond is. Ek is verlig , want Jantjies is steeds in die skemer agter die skerms. En niemand wil hom terughê nie. Gelukkig het ons ook nog vir Damian wat soveel mense deesdae beïndruk met sy spel. Frans se spel teen die Arg Pumas was eintlik maar baie gemiddeld .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.