Tweede oudste oorlewende Springbok oorlede

Theuns Briers in 1956 in aksie in Nieu-Seeland.

Die tweede oudste lewende Springbok is Sondag by sy huis in Bloubergstrand aan ʼn hartaanval oorlede.

Theuns Briers (89) het Suid-Afrika in 1955 en 1956 in sewe toetse teen Brittanje en Nieu-Seeland verteenwoordig.

Van die oorlewende Springbokke was net Des van Jaarsveldt, 1960 se Bokkaptein teen Skotland, ouer as Briers – drie maande en ʼn paar dae.

Die vyf drieë wat hy in 1955 teen die Leeus gedruk het, was destyds ʼn rekord vir ʼn Springbok in ʼn toetsreeks, en die toentertydse SA Rugbyjaarboek het hom as een van die vyf spelers van die jaar aangewys.

Tog was hy byna vir Suid-Afrikaanse rugby verlore. Toe Briers ná sy studies in die Paarlse distrik gaan boer het, het hy die spel gelos. Dit was die legendariese Bok en rugbykenner Boy Louw, ʼn leidende gees by die klub Paarl, wat hom omgepraat het om weer te begin speel.

Hy is ook nie na 1955 se Bok-proewe genooi nie, maar toe Karel van Vollenhoven, die held van die reeks teen die Britte, voor die proewe beseer is, het Briers sy kans gekry, en dit met albei hande aangegryp.

Terloops, toe hy (Briers) skielik proewe toe ontbied is, het dit beteken hy sou ʼn wedstryd vir Paarl teen die Maties misloop – en in die Paarl is wrintiewaar geglo dis bloot ʼn slenter van Danie Craven om die Maties se wenkans te verbeter.

Briers het met ʼn knal op die toetsverhoog verskyn, en twee puik drieë gedruk. Die tweede drie in die doodsnikke van die wedstryd kon die Bokke die toets laat wen het, as Jack van der Schyff met die doelskop raak gekorrel het.

Die Leeus het met 23-22 gewen.

Briers, ʼn vreeslose en kragtige vleuel, het in die tweede toets nóg ʼn drie gedruk, en in die vierde toets wéér twee keer agter die doellyn gaan kuier.

Hy was aanvanklik nie beskikbaar vir 1956 se toer Nieu-Seeland toe nie, maar is later as plaasvervanger oor toe beserings die span erg gepla het. Hy het in die tweede, derde en vierde toetse teen die All Blacks gespeel.

Die gebore en getoë Paarliet, ʼn produk van Boishaai, het vier drieë in sy agt gewone toerwedstryde gedruk, drie daarvan in die Bokke se sege van 37-0 oor die Maori’s.

Briers het van 1953 af tot 1959 vir die Westelike Provinsie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swartwolf ·

Wat ‘n vleuel, wat ‘n legende. As daar vandag meer spelers met sulke kwaliteite was sou bokke ook ‘n ander span gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.