Tweede sege oorsee nou noodsaaklik vir Cheetahs

Die Ospreys is allermins die wêreld se heel beste span, en die Cheetahs is vrot toeriste.

Dít klink na ʼn soort gelykmaker vir Saterdagaand se wedstryd in Swansea waar daar vir die Vrystaters baie op die spel is.

As Swys Venter-hulle nie hul tweede oorsese oorwinning teen die voorlaaste span in afdeling A van die Pro14-reeks kan behaal nie, gaan die druk op hulle net toeneem om die uitspeelwedstryde te haal.

Die wedstryd teen die Ospreys, ná harde reën in die oggend wat nie tydens die wedstryd behoort te val nie, sal op kunsgras en in matige weer gespeel word, en die voorspelde wind sal glo nie veel meer as ʼn briesie wees nie.

Die Ospreys, 28, het net minder as die helfte van die Cheetahs se 55 drieë in hul 15 wedstryde gedruk, maar heelwat minder afgestaan.

Hierdie goeie weer-nuus teen ʼn swakkerige span wat deur die verlies van nasionale spelers verder uitgedun is, beteken dat die Cheetahs geen verskonings kan hê as hulle nie wen nie.

Dis ʼn kopding, wil ʼn mens al sê ná al die amperse wenne oorsee.

Die Cheetahs is nou, ná 15 wedstryde met ses wat nog in die reeks voorlê, net agt ligapunte voor die Cardiff Blues. Die Walliesers behoort, selfs in Italië, die naweek met Zebré af te reken. Venter-hulle durf dus nie gly nie.

Die Cheetahs se ses oorblywende wedstryde is Saterdag s’n teen die Ospreys, drie in Bloemfontein, een in die Baai teen die Kings en een oor vier weke teen Newport.

Die Cheetahs se wedstryd skop Saterdag 19:35 af, maar word nie gebeeldsend nie.

♦  Die Kings speel Vrydagaand (21:35) teen Leinster, die voorste span in afdeling B. Die Iere, selfs met die oproep van hul bestes na die nasionale span, het tot dusver die tweede meeste drieë van die 14 spanne gedruk.

Enigiets anders as ʼn 16de opeenvolgende loesing vir die Kings sal ʼn verrassing wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.