Tweede toets: Dalk is die wittebrood verby

Soms moet ʼn rugbyspan ook verloor om beter te raak, om die groter prentjie te kan raaksien.

Ja, dit was baie lekker om die Engelse rugbyspan in verlede week se eerste toets op Ellispark met 42-39 te kon klop en ja, die saadjie is dalk vir die toekoms geplant en ja, dis belangrik om die reeks te beklink.

Maar hoewel almal daarna streef, kan almal nie die All Blacks wees nie, want hulle is ander spanne ligjare vooruit.

Dis nodig om te wen, om selfvertroue te kweek en te bou, en om vaardighede te verbeter en momentum te behou.

Maar wanneer jy aanhou wen, verval jy in ʼn amperse groef, want jou swakpunte word toegesmeer.

Dis wat juis met Engeland gebeur het sedert Eddie Jones twee jaar gelede die leisels as afrigter by Stuart Lancaster oorgeneem het. Terwyl die span vir 17 toetse aan die wenkant gebly het, is daar slegs kosmeties ontwikkel. Die krake is gevul, maar daar is nooit behoorlik oopgekap en gepleister nie.

Daar word ʼn vals beeld van jou krag geskep, jou geluk word opgebruik, en jy dink net aan die volgende oorwinning en nie meer aan die groter prentjie nie.

Hoeveel nuwe Engelse spelers het na vore getree?

Noudat die Rose onder Jones vier opeenvolgende wedstryde in ʼn ry verloor het, moet Jones opnuut ontwikkel, kanse waag, spelers uit posisies kies, ʼn nuwe spelpatroon probeer vestig.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het met die intrapslag gewaag en gewen.

Hy het ʼn rits jong en onervare spelers gekies en jeug en ervaring gemeng. Hy het reeds in die onsinnige toets in Washington teen Wallis vasgestel dat diepte ʼn probleem kan wees en hy het reeds ʼn paar antwoorde op sy vrae in die Ellispark-toets gekry.

♦ Maar wees maar versigtig om nie te vroeg op loop te gaan nie. Ja, klop die spelers op die skouers, gee hulle krediet waar dit toekom, maar moenie ná een of twee toetswedstryde die jongelinge met legendes soos Carel du Plessis, Ray Mordt en Danie Gerber vergelyk nie.

Gee hulle kans, kyk hoe hulle in die reeks en dan in die Rugbykampioenskap vaar en fel dan ʼn oordeel.

Kyk hoe pas hulle aan onder die vertolking van die omstrede Franse skeidsregter Romain Poite.

Kyk hoe vaar hulle noudat die adrenalien nie meer so kwaai soos in die eerste toets vloei nie.

Kyk na die groter prentjie …

Spanne ‒

Suid-Afrika
15 Willie le Roux, 14 S’Bu Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 RG Snyman, 3 Frans Malherbe, 2 Bongi Mbonambi, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Steven Kitshoff, 18 Thomas du Toit, 19 Jean-Luc du Preez, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Ivan van Zyl, 22 Jesse Kriel, 23 Warrick Gelant.

Engeland
15 Elliot Daly, 14 Jonny May, 13 Henry Slade, 12 Owen Farrell (kaptein), 11 Mike Brown, 10 George Ford, 9 Ben Youngs, 8 Billy Vunipola, 7 Tom Curry, 6 Brad Shields, 5 Maro Itoje, 4 Joe Launchbury, 3 Kyle Sinckler, 2 Jamie George, 1 Mako Vunipola. Bank: 16 Luke Cowan-Dickie, 17 Joe Marler, 18 Harry Williams, 19 Mark Wilson, 20 Nathan Hughes, 21 Ben Spencer, 22 Danny Cipriani, 23 Denny Solomona.

Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk).

Assistentskeidsregters: Glen Jackson (Nieu-Seeland), Ben O’ Keeffe (NS).

TV-skeidsregter: Simon McDowell (Ierland).

Verwagte weer: Mooiweer, maar koud.

Afskop: 17:05.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakkalas ·

Geen een van die spelers is tans op daai vlak waarop daai beroemde name genoem kan word nie. Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie. Selfs met al die internasionale blootstelling is die spelers nie naastenby die kwaliteit wat daai groot name in minder toetse en in die amateur era gespeel het nie.

Boesman ·

Ja Jakkals, jou kommentaar is so kort, wat jy sê is absoluut waar maar, dit lyk nie of jy n positiewe man kan wees nie. Ons weet wat aan die gang is met SA sport. Kom ons gee Rassie sy kans en gun hom dit. Daar is rêrig spelers wat daar kan uitkom, Faf, Pollard en nog n paar ander.

Anoniem ·

Wat my dadelik opgeval het is dat daar geen losskakel plaasvervanger op die bank is nie. Wat gebeur as Pollard beseer word? Gaan Willie le Roux of Faf de Klerk losskakel toe skuif? Rassie het baie moed.

BenaYaHU ·

@Manie
OF Rassie WEET dalk iets wat ons nie weet..?! ,,?

Siestog.. ·

Begin hul al klaar weer verskonings soek nog voor die tweede game gespeel is…ai ou Wim en Pieter laat my darem maar ok lekker lag.,as ju nie met hul saam stem dan steek hul jou kommentaar weg…hahhaha ai hoe snaaks..Hoekom dink jy hul is ligjare voor ander spanne wat ons almal weet hul wel is maar wat is jou opinie Pieter?…Die mense het nie meer vertroue in n span wat meer gekies word op politieke beginsels as meriete vir jare en jare nie,groot skade is Suid Afrika se rugby berokken en dit gaan jare vat as ooit om weer regtig kompeterend te wees..Hul soek diepte op toets vlak en verloor.Hul skraap deur die eerste wedstryd met kamtig hul bestes en mense se nee man jul is te negatief…ag asseblief tog…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.