Tweekuns vir Germishuys in Amerikas-toetsreeks

Hanco Germishuys – tweekuns. (Foto: Facebook)

Die gebore Suid-Afrikaner Hanco Germishuys het sy eerste toetsdrie ʼn week gelede teen Kanada Saterdag met ʼn tweekuns teen Brasilië in die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK) opgevolg.

Hy het nou drie drieë in sy vyf toetse tot dusver vir Amerika gedruk.

Germishuys het Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig voordat hy saam met sy ouers Amerika toe verhuis het.

Die Arende, wat deur die Suid-Afrikaner Gary Gold afgerig word, het die kragmeting in São José dos Campos, Brasilië, oortuigend met 45-16 gewen (rustyd 26-10).

Hulle is die verdedigende kampioen, en is tot dusver vanjaar onoorwonne in die reeks.

Swak disipline het veroorsaak dat die tuisspan in ʼn stadium met 13 spelers moes klaarkom.

♦ Die Argentynse Vyftiental, wat die ARK met sy instelling in 2016 gewen het, het die derde van sy vier kragmetings vanjaar gewen deur Kanada in Jujuy, Argentinië, met 40-16 verslaan het (rustyd 19-8).

♦ In Santiago, Chili, het Uruguay ʼn rekordsege van 67-15 oor die tuisspan behaal (rustyd 27-8).

Die nege drieë is die meeste wat die Kiewiete tot dusver teen die Kondors kon behaal, en die 67 punte ook die hoogste telling wat hulle teen Chili kon opstapel.

Uruguay beleef ʼn besonder goeie seisoen, en die reeksvoorloper, Amerika, sal moet lig loop om nie die span in sy laaste wedstryd in Montevideo, Uruguay, te onderskat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.