ʼn Gewese Kaapse rugbyspeler het twee drieë in die jongste ronde van die Roemeense Superliga gedruk.
Dumisani Mtya (slot) se span, Baia Mare, het die Universiteit Cluj met 42-7 onderstebo geloop.
Hy het Schotschekloof-Walmers (SKW) in die Westelike Provinsie se Superliga A verteenwoordig.
♦ In nóg ʼn kragmeting in dié reeks het Hendrik Mulder (losskakel), ʼn gewese o. 21-speler van die Goue Leeus ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Dinamo București teen Steaua București behaal, maar sy span het met 15-27 verloor.
Kuselo Moyake, een van die wenspan se flanke, het homself ʼn geel kaart op die hals gehaal.
Hy het Curriebeker-rugby vir die eertydse OP Kings gespeel.
Franse Fédérale 1-liga
♦ Jaun Kotzé (heelagter) het agt punte met ʼn doelskop en twee strafdoele vir Beaune teen Bourgoin op die telbord geplaas, in ʼn wedstryd wat laasgenoemde met 28-18 gewen het.
Hy het die Valke en die Griffons in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig.
♦ Wiehan Hay het ʼn drie gedruk wat Cognac/Saint Jean d’Angély gehelp het om Langon met 30-21 te verslaan.
Hay, wat die Pumas in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig het, het vroeër in die kragmeting sy tweede geel kaart in twee wedstryde op die lyf geloop.
♦ Jeffrey Perkins (banksenter) het Castanet se sege van 19-17 oor Aubenas in die 79ste minuut met ʼn strafdoel beklink.
Hy, en drie van sy broers, het Curriebeker-rugby vir die Valke gespeel.
♦ Niel Bester (binnesenter) van Rodez het ʼn geel kaart in sy span se nederlaag van 14-26 teen Fleurance gekry.
Hy het op o. 19-vlak vir die WP gespeel.
Italiaanse Top12-liga
♦ In die Italiaanse Top12-liga het die Blitsbok Stef Basson (heelagter) ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir I Medicei teen Viadana behaal.
Laasgenoemde het die stryd met 22-17 gewen.