Tweekuns vir gewese Stormer in Europese reeks

Don Armand – tweekuns. (Foto: RFU)

ʼn Gewese Stormers-voorspeler het twee drieë in die jongste ronde van die reeks om die Europese Kampioenebeker gedruk.

Don Armand, wat in Junie sy buiging as toetsflank vir Engeland gemaak het, het dié tweekuns vir die Engelse klub Exeter teen die Franse klub Montpellier behaal.

Sy span het met 27-24 gewen nadat die doelskop van Armand se tweede drukslag die spanne 24-24 gelyk laat trek het.

Só het die doelskop van ʼn drie deur die Springbok-haker Schalk Brits ook die Engelse klub Saracens in staat gestel om sake rustyd 17-17 met die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) te deel.

Saracens het op die ou end met 36-34 gewen.

Nóg ʼn Bok, Ashley Johnson, het in die kragmeting tussen die Engelse klubs Wasps en Harlequins ʼn drie tot Wasps se wegholsege van 41-10 bygedra.

Rory Kockott, die Franse toetsskrumskakel wat Superrugby vir die Sharks en die Lions gespeel het, het nege punte met drie doelskoppe en ʼn strafdoel vir die Franse klub Castres teen die Engelse klub Leicester behaal.

Laasgenoemde het die Franse met 54-29 oorheers.

Faf de Klerk – nege punte. (Foto GB Jordaan)

Europese Uitdaagbeker

♦ In die reeks om die Europese Uitdaagbeker het die Bok-skrumskakel Faf de Klerk eweneens nege punte met drie doelskoppe en ʼn strafdoel vir die Engelse klub Sale teen Lyon behaal.

Die Franse klub het die botsing met 27-24 gewen.

Branden Holder (linkervleuel), wat o.19-rugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir die Franse klub Agen teen sy Engelse eweknie Gloucester gedruk, in ʼn wedstryd wat laasgenoemde met 61-16 gewen het.

In ʼn stryd tussen twee Franse klubs, Brive en Oyonnax, wat eersgenoemde met 38-13 gewen het, het Ruhan Hauman (stut) een van die wenspan se drieë gedruk.

Hy het die Boland op o.19-vlak verteenwoordig.

Die gewese Stormer Rynard Elstadt, flank van Toulouse, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span se nederlaag van 15-17 teen die Walliese streekspan Cardiff Blues.

BJ Botha – drie. (Foto: Facebook)

Franse Pro D2-liga

♦ In die Franse Pro D2-liga het die 37-jarige Springbokstut BJ Botha ʼn drie vir Biarritz in sy sege van 23-22 oor Dax gedruk.

Twee oud-Affies het onderskeidelik nege en agt punte met die skoen in dié reeks aangeteken.

Jacques-Louis Potgieter (Bulls, Sharks en Cheetahs) het drie doelskopppe en ʼn strafdoel vir Perpignan teen Narbonne behaal voor sy wedstryd in die 72ste minuut met ʼn geel kaart beëindig is.

Peripignan het met 24-13 gewen.

Willie du Plessis, wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het ʼn doelskop en twee strafdoele vir Bayonne teen Carcasonne behaal.

Laasgenoemde het die kragmeting met 32-16 gewen.

Danré Gerber, ʼn gewese Bolandse senter en seun van die Bok-legende Danie Gerber, het ʼn strafdoel vir Mont de Marsan in sy sege van 17-16 oor Aurillac behaal.

Cameron Dunlop – twee strafdoele. (Foto: RCAV)

Franse Fédérale 1-liga

♦ Die Franse Fédérale 1-liga het ook ʼn klompie punte vir spelers uit Suid-Afrika opgelewer.

Cameron Dunlop, die plaasvervanger-linkervleuel van Aubenas het twee strafdoele vir sy span in dié se nederlaag van 9-20 teen Albi behaal.
Dunlop het die Sharks se o.21-span verteenwoordig.

Griffith van Wyk (slot), wat Vodacombekerrugby vir die Valke en Griekwas gespeel het, het ʼn drie vir Nantes in sy sege van 37-0 oor Saint Medard gedruk.

Christiaan Erasmus (linkervleuel) het ʼn drie vir Niort teen Cognac/Saint Jean d’Angély gedruk in ʼn kragmeting wat met 16-16 gelykop geëindig het.

Hy het as skrumskakel vir die Cheetahs se o.21-span uitgedraf.

Neil Bester (binnesenter), wat die Westelike Provinsie op o.19-vlak verteenwoordig het, het ʼn strafdoel vir Limoges behaal in sy nederlaag van 11-13 teen Roval Drôme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.