ʼn Gewese SA o.20-speler het Saterdag twee drieë vir die Engelse klub Worcester Warriors teen Harlequins in dié land se Premierliga gedruk.
Dean Hammond wat van die bank af as linkervleuel opgegaan het, het ook vir die Westelike Provinsie gespeel.
Quins het die kragmeting met 31-25 gewen.
Tim Swiel (plaasvervanger-losskakel), wat vir die SA Skolespan en Superrugby vir die Sharks gespeel het, het met ʼn strafdoel vir die wenspan geslaag.
Twee Springbokke, Ashley Johnson (haker) en Juan de Jongh (binnesenter), het elk ʼn drie vir Wasps in sy sege van 38-22 oor Northampton gedruk.
Faf de Klerk, Sale se Bok-skrumskakel, het twee strafdoele vir sy span bygedra in sy nederlaag van 6-10 teen Exeter.
Engelse Kampioenskap
In die Engelse Kampioenskap het die Suid-Afrikaans gebore Darryl Veenendaal (skrumskakel) ’n drie vir Nottingham gedruk in sy sege van 34-17 oor Richmond.