Twee Springbokke het elk twee keer agter die doellyn gaan kuier in die jongste ronde van die Franse Top14-liga.
Frans Steyn, die buitesenter van Montpellier, het sy twee drieë teen Clermont met ʼn doelskop aangevul.
Montpellier het die kragmeting met 28-24 gewen.
Steyn se spanmaat Henry Immelman (heelagter), wat o.21-rugby vir die Vrystaat gespeel het, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.
Montpellier het intussen aangekondig dat hy die diens van die 23-jarige Lions-stut Johannes Jonker bekom het om vir die beseerde Springbok Jannie du Plessis in te staan.
Cheslin Kolbe (regtervleuel) het twee drieë vir Toulouse in sy sege van 38-37 oor Bordeaux Bègles gedruk.
Twee Bok-losskakels het ook punte in die reeks aangeteken.
Morné Steyn se drie en twee doelskoppe het nege punte vir Stade Français opgelewer, maar Brive het hom met 20-19 getroef.
Pat Lambie, wat as plaasvervanger op die veld is, het ʼn doelskop vir Racing 92 in sy sege van 32-20 oor Pau behaal.
Pro D2-reeks
Danré Gerber, ʼn gewese Bolandse senter en die seun van die Bok-legende Danie Gerber, het op verlede week se goeie vertoning voortgebou en 16 punte vir Mont de Marsan teen Beziers in die Pro D2-reeks behaal.
Hy het ʼn drie gedruk, met vier doelskoppe geslaag en ʼn strafdoel deur die pale gejaag.
Willie du Plessis, wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het twee doelskoppe en twee strafdoele vir Bayonne teen Montauban aangeteken.
Laasgenoemde het met 25-20 gewen.