Tweekunste vir twee SA jonges in Europa-reekse

Twee jong Suid-Afrikaners het Saterdag elk twee keer agter die doellyn gaan kuier in die internasionale Europese klubreekse.

In die reeks om die Europese Kampioenebeker het die 22-jarige Henry Immelman (plaasvervanger-binnesenter) twee drieë in die Franse klub Montpellier se sege van 36-26 oor die Skotse superklub Glasgow Warriors gedruk.

Immelman het die Vrystaat-vyftiental in die opstelronde van die Curriebekerreeks verteenwoordig.

Die Springbok Frans Steyn (buitesenter) het ʼn strafdoel bygedra, maar nog ʼn Bok, Bismarck du Plessis (plaasvervanger-haker), het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

ʼn Gewese SA o.20-speler, Duhan van der Merwe (linkervleuel), ook 22, het twee drieë vir die Skotse superklub Edinburgh in sy sege van 78-0 oor die Russiese klub Krasni Jar Krasnojarsk in die reeks om die Europese Uitdaagbeker gedruk.

Van der Merwe, wat op sy beurt die Blou Bulle in die Curriebeker-opstelronde verteenwoordig het, en Immelman staan aan die voorpunt van ʼn groeiende getal spelers wat hul heil baie jonk reeds oorsee gaan soek.

Kampioenebeker

In nog ʼn kragmeting in die reeks om die Kampioenebeker het Scott Spedding, ʼn gewese Sharks-speler wat toetsrugby vir Frankryk speel, die Franse klub Clermont se sege van 24-21 oor die Engelse klub Saracens in die 78ste minuut met ʼn strafdoel beklink. Hy het vroeër in die wedstryd ook met een geslaag.

Sy spanmaat Nick Abendanon, ʼn Engelse toetsspeler wat in Bryanston gebore is, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Nog ʼn Suid-Afrikaans-gebore Franse toetspeler, die skrumskakel Rory Kockott, het Castres se enigste punte met ʼn doel in sy nederlaag van 7-29 teen Racing 92 aangeteken, maar is eweneens met ʼn geel kaart gestraf.

Die Ierse toetsspeler CJ Stander, voorheen van die Bulls, het ʼn drie vir die Ierse provinsie Munster in sy sege van 25-16 oor die Engelse klub Leicester gedruk.

Uitdaagbeker

In die reeks om die Uitdaagbeker het die Bok Heinke van der Merwe (plaasvervanger-loskopstut) ʼn drie vir die Franse klub Stade Français teen die Engelse klub London Irish gedruk.

Sy span het met 26-20 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.