Tweestryd ontwikkel in KZN se Premierliga

ʼn Tweestryd is aanʼt ontwikkel in die KwaZulu-Natalse Premierliga nadat die eerste drie naweekrondes van die reeks afgehandel is.

Die Moorbeker-kampioen, College Rovers, en die Murraybeker-kampioen (uitklopreeks), Durban Collegians, is albei onoorwonne, maar laasgenoemde het ʼn wedstryd minder gespeel.

Collegians (10 ligapunte) het ook elke keer volpunte behaal, terwyl Rovers (14) ʼn slag ʼn bonuspunt ingeboet het.

Net onder hulle is Varsity College (10 ná drie wedstryde), Amanzimtoti en Empangeni se Zululand Rhinos (albei nege ná drie) in ʼn driestryd van hul eie gewikkel.

Die nuweling in die reeks, Richardsbaai, is tans sewende uit die elf spanne.

Wat die tweede spanne betref, is Rovers (14) voor, gevolg deur VC (13) en Collegians (tien).

Eerste Liga

Hillcrest Villagers (15 ligapunte ná drie wedstryde) en Westville Old Boys (tien ná twee) is die spanne wat in die Eerste Liga voorloop.

Harlequins (agt ná drie) is in die derde plek.

Tussen die tweede spanne het Hillcrest en Quins elk 15 ná drie wedstryde, en WOB tien ná twee.

Noord-Natalse Ligas

Vryheid loop voor in die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie (NKZNSU) se Eerste Liga met 10 ligapunte ná twee wedstryde.

Piet Retief is die vernaamste uitdager en het nege punte ná drie wedstryde.

In die Tweede Liga is die bordjies verhang met Piet Retief (14 ná drie) die voorloper, en Vryheid (ses ná twee) die uitdager.

Ladismith Wolves (vyf ná twee) en Volksrust (vyf ná drie) is ook nog sterk in die prentjie.

Die onoorwonne Newcastle Highlanders III is met tien punte ná twee wedstryde bo aan die Derde Liga se punteleer.

Opgesomde punteleer –

Premierliga (Moorbeker)

Rovers 14, Collegians 10, VC 10, Amanzimtoti 9, Rhinos 9, South Coast Warriors 6, Richardsbaai 6, Crusaders 5, UKZN 5, Jaguars 1, Newcastle 0.

Premierreserweliga

Rovers 14, VC 13, Collegians 10, Amanzimtoti 9, UKZN 9, Crusaders 8, Richardsbaai 5, Rhinos 5, Jaguars 1, SCW 0, Newcastle 0.

Eerste Liga

Hillcrest 15, WOB 10, Quins 8, Durban Mets 5, Ballito Dolphins 1, Pietermaritzburg Collegians 1, Queensburgh 0.

Eerste Reserweliga

Hillcrest 15, Quins 15, WOB 10, Ballito 4, Mets 0, Collegians 0, Queensburg 0.

NKZNSU-ligas

Eerste Liga

Vryheid 10, Piet Retief 9, Sentraal (Dundee) 5, Volksrust 5, Mighty Buffaloes 0.

Tweede Liga

Piet Retief 14, Vryheid 6, Ladismith Wolves 5, Volksrust 5, Sentraal 0.

Derde Liga

Newcastle III 10, Flying Eagles 4, Mighty Buffaloes II 0, Bergville Zebras 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.