Tweetal Bokke plaas Montpellier op die wenpad

Twee Springbokke het die Franse klub Montpellier Sondag op die wenpad help plaas in sy Top14-wedstryd teen Brive.

Hy het die kragmeting met 54-10 gewen.

Bismark du Plessis het twee drieë vir die wenspan gedruk, en Ruan Pienaar het met vier doelskoppe geslaag.

Jody Jenneker, ʼn gewese Sharks-haker, het ʼn drie bygedra tot Castres se oorwinning van 29-23 oor Brive.

Saterdag het Stade Français se plaasvervanger-losskakel, Morné Steyn, die wedstryd teen Pau met ʼn doelskop in die 68ste minuut beklink.

Hy het vroeër ook ʼn strafdoel oorgeskop, en Stade het met 25-23 gewen.

Sy Bokmaat Willem Alberts is met ʼn geelkaart gestraf.

Dieselfde lot het die gewese Stormers-kaptein Deon Fourie in Lyon se wedstryd teen Racing 92 te beurt geval.

Laasgenoemde het met 20-17 gewen.

Cheslin Kolbe, ʼn gewese SA o.20- en Stormers-speler, het ʼn drie vir Toulouse in sy sege van 30-10 oor Agen gedruk.

Engeland

Die Springbok Faf de Klerk het Vrydag in die Engelse Premierliga ʼn drie vir Sale gedruk in sy span se oorwinning van 57-10 oor die gewese Lions-afrigter Johan Ackermann se Gloucester.

In die Engelse Kampioenskap het ʼn gewese onderouderdomspeler van die Sharks, Brandon Cope, Saterdag agt punte (ʼn doelskop en twee strafdoele) vir Jersey teen Bedford behaal; en Roy Godfrey, ʼn gewese Curriebekerstut van die Suidwestelike distrikte, het ʼn drie gedruk.

Bedford het met 15-13 gewen.

Pro14-reeks

In die internasionale Pro14-reeks het die plaasvervanger-losskakel van die Skotse superklub Glasgow Warriors, Brandon Thomson, vyf punte in sy span se sege van 37-21 oor die Italiaanse klub Benetton Treviso behaal.

Thomson, wat vir SA o.20 en die Stormers uitgedraf het, het ʼn doelskop en ʼn strafdoel aangeteken.

Italië

Kayle van Zyl, wat Curriebekerrugby vir die OP Kings gespeel het, het twee drieë vir San Dona teen I Medicei in die Italiaanse Super 10-reeks gedruk.

Sy span het met 43-17 gewen.

Die Blitsbok Stef Basson, wat voorheen vir Rovigo in dié liga gespeel het en nou I Medicei help afrig, het ʼn doelskop vir sy span in punte omskep.

Jacques Momberg, ʼn gewese Pumas-haker, se drie vir Rovigo in die 56ste minuut van die wedstryd teen Fiamme Oro Rona het sy span die eerste keer laat voorloop.

Rovigo het uiteindelik met 19-13 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.