Twintigtal vir Pat Lambie in Franse Top14-liga

Pat Lambie – 20 punte.
(Foto Facebook)

Die Springbok-losskakel Pat Lambie het Sondag vir ʼn twintigtal punte in die Franse Top14-liga gesorg toe sy span, Racing 92, met Toulon afgereken het.

Lambie het al vier Racing se drieë verdoel, en met vier strafskoppe geslaag in die kragmeting wat Racing met 40-29 gewen het.

Nóg ʼn Bok, die vleuel JP Pietersen, het twee drieë vir Toulon gedruk.

Tian Schoeman, ʼn gewese losskakel van die Bulls, het sy kakebeen op drie plekke gebreek in die wedstryd in die afgelope naweekronde tussen Bordeaux Bègles en Agen.

Die Bordeauxse speler is in ʼn botsing met die Agen-vleuel George Tilsley beseer.

Jandré Marais (slot), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir Bordeaux gedruk, wat met 33-23 gewen het.

Die Bok-senter Jan Serfontein het ʼn drie vir Montpellier gedruk, en die gewese Cheetahs-stut Maks van Dyk een vir Toulouse in die botsing tussen dié twee spanne.

Montpellier het die wedstryd met 32-22 gewen.

Twee gewese Stormers, Francois van der Merwe (slot) en Deon Fourie (plaasvervanger-flank), wat vir Lyon speel, het geel kaarte op die lyf geloop in hul span se wedstryd teen Clermont.

Laasgenoemde het met 39-18 gewen.

Jody Jenneker, ʼn gewese haker van die Sharks, wat vir Castres speel, is met ʼn geel kaart gestraf in sy span se sege van 31-15 oor La Rochelle.

Engelse Premierliga

Jono Ross, ʼn gewese kaptein van die Bulls, het ʼn drie vir Sale in die Engelse Premierliga gedruk, en die Bok-skrumskakel Faf de Klerk het met twee doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag in hul span se 27-35-nederlaag teen Leicester.

Die Bok-haker Schalk Brits het ʼn drie vir Saracens gedruk in die wedstryd wat Johan Ackermann se Gloucester-span met 23-17 gewen het, en waarin Ruan Ackermann as die speler van die wedstryd aangewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christo ·

En nou sit ons met 6de rangse losskakels terwyl die enigste en beste eersterangse losskakel – Pat – nie vir ons beskikbaar is nie.

henk ·

weet allister coetzee wie Pat Lambie is en waar hy gekontak kan word? En Ruan Combrink?

kapenaar ·

Hopeloos te min Curriebekerkampioene in die span dis hoekom die Bokke so sukkel. So byvoorbeeld moes Du Preez, Vermaak, Marais en Viljoen in die bokagterlyn wees om die span te versterk. Ook jammer dat Huw Jones nou vir Skotland speel, hy’s beter as enige Bok-senter wat ons het.

skollie ·

Lambie is nie die antwoord vir Bok-losskakel nie. Dalk bruikbaar op heelagter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.