Twis tussen blaser en vlagman verkort wedstryde

Attie Brits (agsteman) van Meyerton storm voort teen Edenpark, met Awie Vermeulen (skrumskakel) en Ronnie Berry (flank) gereed op te help. (Foto: Maryké Slabbert)

Die Buffels van Grootvlei se wedstryd in die Valke-rugbyunie (VRU) se Kestrel-liga is die tweede opeenvolgende week kortgeknip nadat die skeidsregter en ʼn vlagman in ʼn rusie betrokke was.

Gouws Booyens, voorsitter van die Buffels, sê die klub se wedstryd Saterdag teen Katlehong Tigers is ná 20 min in die tweede helfte deur die skeidsregter beëindig.

Die Buffels was op daardie tydstip met 48-0 voor.

“Die vlagman van Katlehong het in ʼn woordewisseling met die skeidsregter betrokke geraak en die blaser het versoek dat hy vervang word. Die vlagman het steeds aangebly, en die wedstryd is gestaak.”

Dieselfde het die vorige week met die Buffels teen Delmas gebeur.

“Delmas se vlagman wou ʼn hoogvat uitwys, en die skeidsregter het aan hom probeer verduidelik dat die vlagman nie die fout mag uitwys nie,” sê Booyens.

“Daar was blykbaar toe woorde en die skeidsregter het die wedstryd gestaak met die telling 54-11 in die Buffels se guns.”

Teen Katlehong het Johnty Shelton (drie), Gerhard Botha (twee), Pitso Moloi en Danie Dempsey vir die Buffels drieë gedruk. Daar is ook ʼn strafdrie toegeken nadat Katlehong ʼn dryfbeweging afgetrek het. Moloi het met drie doelskoppe geslaag.

Teen Delmas was die Buffels teen rustyd reeds met 47-12 voor.

Nathan Richards (drie), Marius Victor, Gerrie Rautenbach, Leon Deysel en Moloi het die drieë gedruk en laasgenoemde het twee verdoel. Hendrik van Niewenhuizen (drie) en Werner du Plessis (een) het eweneens drieë verdoel.

♦ In dieselfde liga het Eurolux Meyerton Knights United Saterdag met 69-10 teen Edenpark gewen, nadat hy Heidelberg verlede week met 69-7 afgeransel het.

Die vleuel Shawn Prinsloo het onderskeidelik 28 en 32 punte in die twee wedstryde aangeteken.

Teen Edenpark het hy drie drieë gedruk en met vyf doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag; en teen Heidelberg het hy ses keer agter die doellyn gaan kuier en ʼn drie verdoel.

In laasgenoemde geval was daar danksy sy aftrap en vaart eenvoudig geen keer aan hom nie en is hy as die speler van die wedstryd aangewys.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, sê die wedstryd teen Edenpark op dié se tuisveld was straf, maar het heelwat hardlooprugby opgelewer.

“Meyerton se voorhoede het vroeg die oorhand gekry, die agterlyn die geleentheid gegee om die bal te laat loop en die telbord aan die rol te hou.”

Meyerton se ander drieë is deur Attie Brits (agsteman), Raynard Berry (slot en kaptein, twee), Conrad Swanepoel (senter), Awie Vermeulen (skrumskakel), Deon Lategan (flank) en JC Visagie (stut) gedruk.
Van die vorige kragmeting teen Heidelberg op Volkskool se veld sê Lloyd dit was nat en bitter koud, maar die weer het geen afbreuk aan die rugby gedoen nie.

“Meyerton het vroeg-vroeg ʼn wekroep gekry toe Heidelberg binne die eerste paar minute ʼn drie gedruk het.

Skouspel

“Kort voor lank het Meyerton se agttal by die afbreekpunte begin oorheers en die agterlyn het die bal die praatwerk laat doen.

“Uitstekende aanvallende rugby het die wedstryd in ʼn skouspel omskep.”

Lloyd sê Gerhard (Bullet) van der Watt (haker) was die voorspeler van die dag, op grond van sy losspel en lopies oor die voordeellyn, maar die hele 22-tal het uitstekend gespeel.

Benewens Prinsloo se 32 punte het Ryan Verster (heelagter) 22 met twee drieë en ses doelskoppe aangeteken, en het Adriaan Labuschagne (buitesenter), Ronnie Berry (flank) en Donovan Mitchell (slot) die doellyn oorgesteek.
Meyerton speel Saterdag tuis teen Delmas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.