Uitdaagbeker-reeks: Warriors knoop Lions se stert

Afronding word nie maklik in rugby aangeleer nie.

Hoe dan anders kan die Lions se vertoning Saterdagaand op Scotstoun teen die Glasgow Warriors in die Europese Uitdaagbekerreeks opgesom word?

Die Lions het oorheers, die Warriors van hul voete af gespeel, maar is met 31 – 21 geklop nadat die Warriors rustyd reeds met 14 – 0 voor was.

Die Lions het volgens die Europese Uitdaagbekerreeks se wedstrydstatistieke 69% besit teenoor die Glasgow Warriors se 31% gehad, hulle gebiedsvoordeel was 60% teenoor 40%, hulle het 581 meter met die bal gevorder teenoor die Warriors se 325 meter, hulle het die bal 196 keer aan- en uitgegee teenoor die Warriors se 143.

Hulle het die bal 186 keer gedra teenoor die Warriors se 108, hulle het baie meer veld gewen het met hul skoppe, hulle het minder duikslae verbrou, maar steeds nie gewen nie omdat die Warriors afgerond het wanneer hulle moes en die Lions dit nie kon regkry nie.

Maar ondanks die nederlaag kan die Lions hulle koppe lig, want hulle moes na Glasgow reis, hulle het twee spelers (Rabz Maxwane en Ruan Venter) met harsingskudding verloor, maar het nooit moed opgegee nie.

Hulle het die bal rondgegooi, hulle het gerolmaal, hulle het die Warriors poegaai geskrum, maar steeds verloor omdat hulle nie kon afrond nie.

Die Warriors, met die oud-Bok Franco Smith as afrigter aan die stuur, is deur tot die halfeindronde waar hulle aan die einde van die maand kragte met die Walliese Scarlets meet.

Die Warriors, ondanks hul fisieke tekortkominge, is baie goed afgerig, hulle speel slim, met baie vaart en het die regte houding op die verdediging… en hulle kan afrond wanneer hulle moet.

Puntemakers:

Glasgow Warriors 31 (14): Drieë: Jack Dempsey, Jamie Dobie, Zander Fagerson, Tom Jordan. Doelskoppe: George Horne (4). Strafdoel: Horne.

Lions: 21 (0): Drieë: Sanele Nohamba, Francke Horn, Morné Brandon. Doelskoppe: Nohamba, Gianni Lombard (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.