Uitdaagbekerreeks: Lions brul hard teen Perpignan

(Foto: @LionsRugbyCo/Twitter)

Toe die Lions die afgelope paar seisoene in die rugbywildernis was, is daar baie gesê dat die afrigters gepos moes word, want die Lions se vaardighede ontbreek, hulle speel sonder vuur, is verbeeldingloos en daar is te veel leemtes.

Sonder om doekies om te draai, die Lions was in tamatiestraat, sekerlik omdat hulle nie die begroting van die Stormers, Bulls en Sharks gehad nie om hul spelerspens na willekeur aan te vul nie.

Maar bestuur het vasgebyt, hulle het eerder staat daarop gemaak om plaaslike talent te ontwikkel.

Dit was ʼn paar moeilike seisoene, maar nou pluk die Lions die vrugte daarvan, soos Sondag se oorwinning in die Europese Uitdaagbekerreeks van 28-12 oor Perpignan in die Stade Aiome Giral.

Die Lions is vooraf maar min kans gegee, want hulle het immers weg van die huis af gespeel en hul gereelde staatmakers tuis gelos.

Maar dit was ʼn stroopsoet oorwinning en getuig van die harde werk wat daar die afgelope paar jaar deur die afrigtingspan en spelers ingesit is.

Afgesien van die ervare heelagter Andries Coetzee  en die losskakel Jordan Hendrikse, was daar agterlangs ʼn hele paar onervare spelers op dié vlak. Maar die jongelinge het binne ʼn paar maande reeds wasdom bereik.

Voorlangs was Corné Fourie, Jaco Visagie en Ruan Smith van die hardebaarde, maar dit was ook jongelinge soos die leenspeler Hanru Sirgel, Raynard Roets en JC Pretorius wat vir die opwinding gesorg het.

Hulle het Perpignan oorheers, en hoewel daar in die eerste helfte ʼn paar lynstane afgestaan is, is die Franse ore aangesit. Daar was veral een monsterskrum wat die tuisspan heeltemal geknak het.

Die Lions se verdediging was ook uitstekend en hulle het die tuisspan agter die voordeellyn in foute gedwing.

Die groot uitblinker was Hendrikse, wat die afgelope paar wedstryde in die skadu staan van die skrumskakel Sanele Nohamba, wat vir die maanhare losskakel in die Verenigde Rugbykampioenskap speel.

Hendrikse het 23 punte aangeteken wat uit sewe strafdoele en een doelskop bestaan het.

Sy lynskoppe en taktiese skopwerk het Perpignan laat bontstaan en nou wag daar kwaai kopkrap op die hooafrigter Ivan van Rooyen en sy mede-keurders.

Soos Hendrikse Sondag gespeel en die toutjies getrek het, is hy dalk die aangewese keuse vir die pad vorentoe.

Puntemakers: Lions 28 (16): Drie: Rabz Maxwane. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafdoele: Hendrikse (7).

Perpignan 12 (12): Strafdoele: Jean-Pascal Barraque (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.