Die rolle was Vrydag in Bloemfontein omgeruil toe die Cheetahs en Australië se Western Force mekaar in die eerste van vier wedstryde in vanjaar se Toyota-uitdaagreeks gepak het.
Die eerste twee wedstryde in dié reeks word in Bloemfontein gespeel met nog twee wat aan die einde van September en in Oktober in Perth afgehandel word.
Die Cheetahs het die eerste kragmeting met 31-27 gewen nadat die losskakel Ruan Pienaar met ʼn doodsnikstrafdoel gesorg het dat die Cheetahs nie aan die agterspeen suig nie.
Boonop is daar vir elke oorwinning ʼn bonus van R250 000 vir die wenspan op die spel, en dis glad nie te versmaai in die af-seisoen nie.
Afgesien van dié tydige meevaller gebruik die Cheetahs die reeks as voorbereiding vir hul aanslag in die Europese Bekerreeks (wat in Desember afskop), terwyl die Force van hul jong akademie-spelers slyp vir aanstaande jaar se Superrugbyreeks.
Die Cheetahs was in beheer en dit het nooit gelyk asof die Force enduit die pas sou kon volhou nie.
Die tuisspan se voorspelers het die vaste fasette oorheers en dit het tot vier drieë ná rolmaalbewegings (almal deur hul hakers) gelei.
Terwyl die Cheetahs se voorspelers die grondslag gelê het, het die Force heel verrassend nie geskroom om met die bal te hardloop nie.
Vir die Vrystaat het hul twee Van der Merwe-voorosse, Marnus (2) en Gideon, drieë gedruk. Saam met die vurige baljagter-agtsteman Jeandré Rudolph, wat in die tweede helfte opgestuur is, Friedle Olivier en Victor Sekekete, het hulle amok gemaak.
Agterlangs was dit dalk nie ʼn vertoning waarop die Vrystaatse ondersteuners aan gewoond geraak het nie, maar dit is deel van hul beplanning en voorbereiding vir ʼn lang Europese seisoen wat voorlê.
Wag maar vir die volgende wedstryd, wanneer die krane oopgedraai kan word.
Vir die Force het jongelinge soos die heelagter Harry Potter (nie die ou in die flieks nie), die vleuels George Poolman en Ronan Leahy, die plaasvervanger Gio Leituala, en die losskakel Max Burey indruk gemaak met hul ondernemingsgees.
Puntemakers: Cheetahs 31 (21). Drieë: Marnus van der Merwe (2), Gideon van der Merwe, Marko Janse van Rensburg. Doelskoppe: Ruan Pienaar (4). Strafdoel: Pienaar.
Western Force 27 (17). Drieë: Ronan Leahy, Harry Potter, Gio Leituala. Doelskoppe: Max Burey (3). Strafdoele: Burey (2).
Daarsy VRYSTAAT!!!