Uitgedunde Namibië ransel Tunisië deeglik af

ʼn Uitgedunde Namibiese span het Saterdag in Monastir, Tunisië, getoon hy sal vanjaar nie maklik sy titel as Afrika-kampioen afstaan nie.

Die Biltongboere moes sonder 13 van hul voorste spelers klaarkom, maar het nogtans die kragmeting om die nuwe Goue Beker in die Mustafa Ben Jannet-stadion met 53-7 gewen (rustyd 17-7).

Die kaptein, Rohan Kitshoff, het vroeg-vroeg ʼn driekuns behaal om sy span 17-0 te laat voorloop, en Wian Conradie het twee keer agter die doellyn gaan kuier.

Eugene Jantjies het elf punte met vier doelskoppe en ʼn strafdoel bygedra.

Namibië se ander drieë is deur Justin Newman, Hilarius Kisting en David Philander gedruk. Kisting het een verdoel.

♦ Uganda het die voortou in die reeks geneem deur verlede jaar se tweedevlak-kampioen, Senegal, met 17-16 in die Iba Mar Diop-stadion in Dakar, Senegal, te troef.

Luidens berigte het Senegal op sy swaarder agttal staat gemaak, maar die Mahemme se vlugvoetige agterlyn het op die ou end die knoop deurgehak.

Dit was albei spanne se tweede wedstryd, terwyl die res nog net een keer in aksie was.

♦ Die Afrikareeks is vanjaar herskik om vir ʼn Goue, Silwer- en Bronsbeker te voorsien. Die topreeks is van vier tot ses spanne uitgebrei.

Opgesomde punteleer –

Uganda 6, Namibië 5, Zimbabwe 5, Kenia 3, Senegal 1, Tunisië 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.