Uitgeruste Carter gaan toetse misloop

Foto: tvnz.co.nz

Foto: tvnz.co.nz

Dis nie net baie rugby wat beserings bring nie. Dan Carter, na feitlik `n seisoen se aflê om hom te spaar vir aanstaande jaar se Wêreldbeker, is beslis uit die eerste drie wedstryde van die Rugbykampioenskap wat oor tien dae begin.

Dit is moontlik dat dit vier wedstryde kan wees, wat sal beteken die losskakel van Crusaders met 100 toetse op sy kerfstok kan dalk ook die eerste van die All Blacks se twee toetse teen die Springbokke misloop.

Die 32-jarige Carter het Saterdag `n haarlynfraktuur in sy kuit (bo-fibula) opgedoen in die  Supereindstryd wat die Crusaders 32-33 teen die Waratahs verloor het.

Die krakie is so klein dat dit aanvanklik nie deur die X-strale opgetel is nie. Eers ná skandering is daar vasgestel daar is wel `n haarlynkraak wat minstens vier weke sal neem om te herstel.

Carter is met rustyd in die Supereindstryd vervang.

Hy sal gewis die eerste twee wedstryde in die Rugbykampioenskap op 16 en 23 Augustus teen Australië misloop en sal ook nie op 6 September in Napier teen Argentinië kan speel nie.

Omdat rus noodsaaklik is vir die besering se herstel, is daar `n moontlikheid dat Carter ook sal moet uitsit wanneer Nieu-Seeland op 13 September in Wellington teen die Springbokke speel.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.