Uitstekende klubrugbyspeler hang sy stewels op

Louis Roos hardloop vir oulaas op die veld saam met sy twee kinders. Foto: Konrad Jansen van Rensburg.

Dit is nie net Springbokke soos Beast Mtawarira, Francois Louw of Schalk Brits wat ’n heldeontvangs verdien nadat hulle hul stewels opgehang het nie. Soms verdien ’n “doodgewone” klubrugbyspeler net soveel lof vir die bydrae wat hy tot die spel gemaak het.

Louis Roos het Saterdag sy laaste rugbywedstryd gespeel toe die Middelburg Old Boys’ teen Masakhane in die eindstryd van die Johannesburgse Tens’ Rugby-toernooi kragte gemeet het.

“Dankie vir wat jy vir die spel gedoen het. Jy was briljant sedert jou dae by Hoërskool Waterkloof,” het Jimmy Stonehouse op Roos se Facebook-muur geskryf onmiddellik ná hy sy uittrede op sosiale media aangekondig het.

En die Pumas se hardebaard-breier is beslis nie die enigste afrigter, administrateur, medespeler, teenstander óf ondersteuner wat Roos op die rugbyveld sal mis nie.

As kaptein van die SA All Stars in wedstryd teen die Blitsbokke in Namibië. Roos was die kaptein van die meeste spanne waarin hy gespeel het. Foto: Verskaf.

Die 31-jarige Roos hang sy stewels ná 48 wedstryde vir Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan, 55 wedstryde vir die Middelburg Old Boys’ en ’n ongelooflike 192 wedstryde vir Middelburg Rugbyklub se eerste span op.

“Jislaaik, dit was moeilik om totsiens te sê. Ek dink om jou laaste wedstryd te speel is enige rugbyspeler se grootste vrees; jy kan nie juis iets doen om jou daarop voor te berei nie,” het hy aan Maroela Media gesê.

“Ek het seker vir so ’n goeie drie dae ná die tyd nog tranerig geraak wanneer ek na foto’s gekyk het. Dis al wat ek geken het – ek het as laaitie saam met my boeties rugby in ons ouerhuis se agterplaas gespeel. Rugby het soveel deure vir my oopgemaak en ek het soveel wonderlike mense deur die spel ontmoet.”

Tog voel hy dat vandag se klubspelers te maklik verskonings soek om nie op ’n Saterdag te speel nie.

“Persoonlik wil ek onthou word as ’n speler wat elke naweek – sonder om te kla – vir my klub gespeel het. Deesdae is ouens geneig om werk as verskoning te gebruik … Ek onthou ek het een keer dwarsdeur die nag op die myn gewerk; ’n halfuur voor die wedstryd moes begin het, het ek by die span se kleedkamer opgedaag.”

Hy was ’n baie gevaarlike agterspeler. Foto: Judette Franzoso.

Sy meer as 200 klubwedstryde vir Middelburg (hy het by 192 ophou tel), sy spul amateurwedstryde vir die Pumas, sy internasionale sewes-ervaring saam met die SA All Stars én die Blou Bulle, asook sy liefdadigheidswedstryde vir die Old Boys’, moes waarskynlik vir ’n klómp hoogtepunte gesorg het.

En Roos het élke herinnering in sy geheuebank gestoor.

Van die onderskepdrie wat vir Waterkloof se o.15-span die Beeldtrofee teen Affies besorg het, tot die Bulle se sewessafari in Afrika en die seweswedstryd voor ’n volgepakte stadion in Las Vegas.

“Ons het net vóór die Blitsbokke se eindstryd gespeel en om voor 60 000 geesdriftige toeskouers te speel, is beslis iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

Natuurlik was daar ook ’n paar komiese oomblikke, soos die keer toe die skeidsregter die wedstryd noodgedwonge teen Roodepoort moes stopsit sodat ’n Middelburg-speler ’n ander onderbroek moes gaan aantrek. Hy was net té hard teen sy maag getêkkel!

“Die grootste voorreg vir my is dat my twee seuntjies nog kon sien hoe hulle pappa rugby gespeel het. Dit was altyd lekker as hulle op Donderdagaande saam na die oefening gekom het en ons ’n bietjie bal kon skop op die veld.

“Ek onthou hoe my oudste skaars twee weke oud was en langs die rugbyveld vir ’n sewestoernooi op Potchefstroom was. Ons het hom sommer in die gastehuis waarin ons gebly het se wasbak gebad!”

Louis Roos is ’n legende in klubrugbykringe. En hy gaan beslis op die veld gemis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.