Uittogte skep kanse vir ander spelers

Heinrich Brussow

Heinrich Brussow

Die meeste van ons was geskok en bitter toe ons Vrydagaand hoor dat Jacques du Plessis, en ook later Steven Kitshoff, vanjaar oorsee gaan speel.

“Dis weer daai Jake White”, is gesê nadat Montpellier aangekondig het dat hy die Bulls se vurige jong ysterfklank (en nou ook ‘n versoolde slot)  vir twee seisoene Frankryk toe gelok het.

Die ergste is dat White ‘n hele paar ander Bokke ook Frankryk toe gaan lok. Du Plessis asook die Aussie-skrumskakel Nic White was maar net die begin. Wag maar net totdat van ons ander huidige Springbokke se kontrakte einde se kant toe begin en siedaar, nog twee Du Plessis (Jannie en Bismarck) is ook pad Montpellier toe.

Nee, nee, nee, tog net dit nie. Ons spens word gestroop – geen land kan dit sekerlik bekostig dat baie meer as 100 van sy (nou ook jong, belowende) spelers oorsee speel nie.

Ek is  een van daai mense wat dit van die hoogste geboue af verkondig, want ons is eintlik jaloers op ons kosbaarste besittings en wil nie daaraan byt dat hulle hul talente oorsee uitstal nie.

Maar as ‘n dokter, ingenieur, joernalis, onderwyser, polisieman en verpleegster (asook ‘n tennisspeler, sokkerspeler, gholfspeler en swemmer)  dit doen, waarom ook nie ons rugbyspelers nie?

In die meeste gevalle vind Suid-Afrikaanse rugby baat daarby. Die plaaslike spelerspoel word vergroot, dit skep nuwe geleenthede vir ander plaaslike spelers om ook op Curriebeker-, Super- en selfs internasionale vlak na vore te tree en mee te ding.

Die spelers wat oorsee gaan (afgesien daarvan dat hul bankbalanse Absa breed laat glimlag) leer ander tegnieke aan, hulle kry te doen en raak vertroud met ander toestande, hulle kry te doen met ander kulture, gebruike en gewoontes, hulle skuur skouers met Europa, Nieu-Seeland, Australië en  Japan se beste spelers spelers en afrigters.

Kom ons noem `n paar voorbeelde:

Heinrich  Brüssow: As ek ‘n span kies, is/was hy my baljagter-flank. Nadat hy tydens die Britse en Ierse Leeus-toer in 2009 op sy beste was, het hy in onguns geraak, oor sy grootte, beserings en ook  omdat hy glo te veel strafskoppe afstaan.  Dit het die deur vir Francois Louw oopgemaak wat hy met albei hande aangegryp het.

“Die hemele behoede ons,”  het die Kaapse media geskree toe Flo Louw aangekondig dat hy Bath toe gaan. En wie tree toe na vore: Marcell Coetzee.

Ruan Pienaar: Hy is soos ‘n klimtol tussen heelagter, losskakel en skrumskakel gebruik en het toe na Ulster verkas om te wys dat hy eintlik ‘n skrumskalel van gehalte is (en in noodgevalle ook losskakel kan speel). In sy afwesigheid het Hougie (Francois Hougaard), Cobus Reinach en Piet van Zyl kans gekry.

Jacques Potgieter: Sy vurige inklimspel het baie verbeter toe hy van die Oostelike Provinsie af (saam met Dewald Potgieter) na Pretoria verhuis het. Maar toe bereik sy loopbaan ‘n kruispad en hy verkas Sydney toe waar hy vir die Waratahs speel.

As ek die Bok-groep vir die Wêreldbeker moet kies, is hy een van hulle. Groot, sterk, vinnig, vurig, tipies Suid-Afrikaanse voorspeler waaroor Michael Cheika en die Wallabies droom. Sy vaardighede het baie verbeter, hy is straks die waardevolste voorspeler in die Waratahs se groep. Hy wag net vir Meyer se Bok-oproep.

Kon ons ontleed die Jacques du Plessis-geval:  Die Bulls lok Lappies Labuschagne (van die Cheetahs) Pretoria toe.  Boonop het Arno Botha, op wie se voorkop ook Springbok staan, van sy besering(s) herstel. Pierre Spies is ook terug: Soos hulle sê,  die bus is vol.

Frans Ludeke skuif Jacques du Plessis slot toe, want Flip van der Merwe is beseer,  Victor Matfield word reg bestuur en gaan net af  en toe speel.  Boonop is Paul Willemse oorsee.  Die gevolg: Jacques du Plessis pak sy goedjies op, soos in David Kramer se liedjie.

Ek glo dat Du Plessis in Frankryk gaan gedy. Hy is ook nie vir Suid-Afrika verlore nie, want Heyneke Meyer mag mos oorsese Bokke kies. Hou die man maar dop, Jake White gaan hom in een van die monsters van wêreldrugby ontwkkel.

Wanneer hy oor twee jaar hopelik na Suid-Afrika terugkeer, is hy skaars 23 of 24 jaar oud: dan kan hy een van wêreldrugby se grotes wees, pleks dat sy loopbaan in Pretoria stagneer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theo ·

Die uittogte van 98% van ons spelers word mooi saamgevat in jou laaste paragraaf, wat ook al die oorsaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.