Ulster-breier sê Marcell moet weer Bok word

Marcell Coetzee. Foto: Twitter.

Ulster het die afgelope naweek Ospreys met 24 – 12 in ’n Pro14-kragmeting geklop. En een van die Iere se groot sterre was die 29-jarige Marcell Coetzee.

Die talentvolle losvoorspeler het ’n drie gedruk en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Maar as jy gedink het dat hierdie soort vertoning so skaars soos hoendertande is, sit jy die pot lelik mis.

Tydens die unie se virtuele prysuitdeling verlede maand is Coetzee as die ondersteuners en rugbyskrywers se speler van die jaar, sowel as die rugbypersoonlikheid van die jaar vir die 2019/’20-seisoen aangewys.

Nou wil Ulster se hoofafrigter, Dan McFarland, ’n amperse veldtog van stapel stuur om Coetzee weer deel van die Springbokspan te maak. Die oudspeler van die Haaie het juis 30 internasionale toetse agter sy naam, maar beserings het sy loopbaan tot op hede gekortwiek.

“Ek hoop van harte dat Marcell vir die Bokke gekies sal word en dat hy elke wedstryd vir hulle sal speel. Hy verdien ongetwyfeld so iets,” het McFarland vir die Belfast Telegraph gesê.

Coetzee het verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi misgeloop toe hy sy enkel in ’n wedstryd teen Argentinië beseer het.

“Hy is lief vir Suid-Afrika en hy is lief vir Ulster. As dit nie vir ’n ontydige besering was nie, is ek seker dat hy ook met ’n goue Wêreldbeker-medalje sou gespog het.”

“Hy verdien ’n kans en met die meeste Suid-Afrikaanse spelers wat nie veel wedstrydtyd agter die blad het nie, sal hy van onskatbare waarde wees.”

Coetzee het juis vroeër gesê dat hy graag weer die groen en goud oor sy kop sal wil trek.

“Ja, dit is baie teleurstellend om nóg ’n Wêreldbekertoernooi te mis. Ek kan wel bevestig dat ek op bystand was indien een van die losvoorspelers ’n besering sou opdoen. Maar beserings maak jou net hongerder om te speel – maak nie saak of dit vir Ulster of die Bokke is nie – dit is net wonderlik om rugby te speel,” het Coetzee gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.