Ulster het die afgelope naweek vir Clermont met 29–23 geklop en volgens die Iere het Duane Vermeulen beslis sy teenwoordigheid laat geld.
Hoewel die sterk Springbok-agtsteman onlangs positief vir Covid-19 getoets het, was hy in Ulster se beginvyftiental vir hul Kampioenebeker-kragmeting teen die Franse klub.
Hy het in die 50 minute wat hy op die veld was 12 keer die bal gedra en ’n hele paar meter vir sy nuwe span gevorder.
“Dit is wonderlik om so ’n ongelooflike speler soos Duane as deel van ons opset te hê. Hoewel sy voorbereidingstyd nie na wense was nie, het hy maklik ingeskakel en hy was ’n kalmerende invloed op die veld,” het Alan O’Connor (kaptein) gesê.
Vermeulen, wat ’n kontrak tot 2023 met Ulster onderteken het, het vroeër gesê dat hy aanklank by die Ierse klub se waardes en toekomsverwagting gevind het.
“Ek het juis daarom besluit om deel van die avontuur te word en ek kan nie wag om my beste vir die Ulster-familie te lewer nie.”
Die 35-jarige Vermeulen het reeds 58 toetse vir die Springbokke gespeel en hy was die speler van die wedstryd in die eindstryd van die 2019-Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan.
Die Ierse klublede speel Vrydag op hul tuisveld teen die Northampton Saints.