Ulster nie meer lugtig vir bedompige Durban

Ulster speel die naweek teen die Sharks in Durban. Foto: Twitter.

Hoë humiditeitsvlakke en warm weer is nie meer so ʼn groot faktor vir besoekende Europese rugbyspanne nie, meen Dan Soper.

“Die spelers het baie lesse uit hul vorige toer na Suid-Afrika geleer en hulle is beslis nou meer aanpasbaar,” het Ulster se hulpafrigter gesê.

Die Ierse klub speel hierdie naweek in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Sharks in Durban nadat die vorige kragmeting tussen die twee spanne uitgestel is omdat die Ulster-spelers ʼn maagkiem opgedoen het.

“Ons weet nou wat om van die toestande te verwag en ons het ons voorbereiding dienooreenkomstig aangepas.”

Hierdie nuutgevonde kennis beteken egter nie dat hulle die Sharks onderskat nie. Hoegenaamd nie.

“Die Sharks beskik oor sterk en gevaarlike spelers, terwyl hul verdedigingslyne ook vir ons ʼn groot uitdaging sal wees. Ons sal op alle suiers moet vuur as ons die doelwit van ʼn tuiskwarteindstryd wil bereik.”

Volgens die jongste VRK-punteleer is Ulster tans in die derde plek met 44 punte, terwyl die Sharks sewende is met 38 punte.

“Dinge is darem nog binne ons beheer. As ons wedstryde wen, sal ons op koers wees, maar as ons verloor, sal ons op ander spanne moet staatmaak om vir ons ʼn hupstoot te gee. En dit is nooit lekker nie.”

Hoewel Ulster ʼn paar spelers aan nasionale pligte moet afstaan – Ierland kruis immers swaarde met Italië in Rome – is hulle goed afgerig en kan uit enige teenstanderfout muntslaan.

Intussen is die Sharks sonder die dienste van Aphelele Fassi wat die wedstryd met ʼn rib-besering sal misloop. Hy sal egter weer gereed vir aksie wees wanneer die Durbaniete op 4 Maart teen die Stormers in Kaapstad speel.

Afskoptyd is Saterdag om 14:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.