Unieke rekord wink vir Frans in Skotland

Frans Steyn. Foto: Twitter.

Trek solank die planne op om vir Frans Steyn ’n standbeeld in die Vrystaat op te rig; die 34-jarige speler kan Saterdag met ’n unieke rekord agter sy naam spog.

Indien hy sy verskyning vanaf die plaasvervangersbank op Murrayfield maak, sal hy die eerste Springbok word wat al vir 15 jaar internasionale rugby speel – 15 jaar en twee dae om presies te wees.

Sedert hy sy buiging in 2006 teen Ierland gemaak het, het die Springbokke 55 van die 72 toetse waarin hy gespeel het gewen. Hy benodig ook net ses punte om 150 punte in die groen en goud aan te teken.

Steyn het juis verlede naweek ’n deurslaggewende rol in die Springbokke se sege teen die Wallis gespeel en hy sal brand om weer sy stempel op die wedstryd af te druk.

“Om internasionale rugby vir 15 jaar te speel is ’n ongelooflike prestasie en wat dit selfs meer merkwaardig maak is dat hy steeds in hierdie laat stadium van sy loopbaan nog met top-vertonings vorendag kom,” het Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) gesê.

Saterdag se toets sal ook Jesse Kriel en Franco Mostert se 50ste toets vir die Springbokke wees – Kriel begin weer op regtervleuel, terwyl Mostert hierdie keer Eben Etzebeth se slotmaat is.

Elton Jantjies sal die no. 10-trui dra, met Handré Pollard wat na die plaasvervangersbank skuif.

Skotland het verlede naweek met Australië afgereken en hulle sal ook oorgehaal wees om die Springbokke te klop.

“Skotland is ’n goeie span met ’n hele paar Britse en Ierse Leeus-spelers in hul geledere en ons weet dat ’n taai uitdaging op ons wag.”

Volgens Nienaber verwag hy veral ’n fel stryd in die skrums.

“Pieter de Villiers is deesdae deel van die Skotse opset, maar ons is ook trots op ons skrumwerk en ons sal hulle voorlangs fisiek aanvat.”

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Jesse Kriel (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nche (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

N ·

Frans het die afgelope tyd bewys dat hy in die begin span hoort. Maar nee, kies vir Willie le Roux in die begin span, tot hy aanjaag dan sit jy vir Frans op om di bokke te help

JohanR ·

Wat maak Herschel Jantjies al weer daar? Sal liewer Faf speel met een mank been as Herschel Jantjies!

Niklaas ·

Ek sien net 3 foute met hierdie span. Frans Steyn, Fassi en Reinach nie in opdrafspan. Kriel, Willie en Herschel stel ons teleur.

Salome ·

Hoekom is Frans Steyn nie heel agter nie. Willie speel nie ‘n goeie game nie. Wanneer gaan die afrigters dit agterkom.

N ·

Ek dink almal weet teen nou al wie druk heeltyd die “dislike” knoppie. Meneer verdriet

Jakes ·

Sal die keurders asb my oupa oorweeg vir heelagter want as Willie daar kan speel sal my oupa ook kan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.