Universiteitspan klop Frankryk in Europa

Tukkies se vrouesewesspan. Foto: Reg Caldecott.

Tukkies het gister ’n slag op die internasionale  verhoog geslaan, toe hul vroue-sewesspan vir Frankryk in die Costa Blanca-toernooi in Spanje ore aangesit het.

Die Franse is die vyfde beste span ter wêreld en die universiteitsmeisies het hulle met 14-10 getroef.

Die slimkoppe het egter in die eindstryd met 22-5 teen Pole vasgeval.

“Ek is meer as tevrede met ons vertonings gedurende die toernooi,” het die span se kaptein, Libbie Janse van Rensburg, gesê.

“Dit was ’n ongelooflike wedstryd teen die Franse. Ek is werklik beïndruk met die wyse waarop my spanmaats nooit gaan lê het nie – hulle het glad nie vir hul internasionale teenstanders teruggestaan nie.”

In die eindstryd het die Poolse meisies sterk in die skrums en lynstane vertoon en sodoende het die Suid-Afrikaners nie veel van die bal gesien nie.

“Met elke internasionale toernooi wat ons speel, wil ons op die vorige jaar se prestasies verbeter. Ons het byvoorbeeld verlede jaar derde in die Costa Blanca-toernooi geëindig.”

In hul eerste wedstryd het die Pretorianers vir België met 56-0 getroef, ná hulle ook maklik met hul Skotse en Spaanse teenstanders in die groepfase afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.