Uruguay maak opslae met WB-wen

Uruguay se spelers vier fees ná hul spogoorwinning van 30-27 teen Fidji. Foto: Wêreldbeker-rugbytoernooi se Twitter-rekening.

Vóór vandag se wedstryd teen Fidji het Uruguay nog net twee Wêreldbeker-wedstryde gewen – onderskeidelik teen Spanje en Georgië. Maar ná 80 minute se aksiebelaaide rugby in Japan, word daar beslis partytjie in Suid-Amerika gehou!

Juan Manuel Garamara se span het die eilandmanne 30 – 27 geklop om sodoende hul eerste Wêreldbeker-wedstryd in 16 jaar te wen. Boonop is Fidji nege plekke hoër as hulle op die wêreldranglys.

25 September 2019 is beslis die grootste dag in Uruguay se rugbygeskiedenis.

Op Kamaishi se Gedenkstadion – wat gebou is om die slagoffers van die tsoenami in 2011 te herdenk – het Garamara en kie gewys dat geesdrif en passie ’n skitterende teenvoeter vir spiere en grootte kan wees.

En in dié geval was die kapokgewig (Uruguay) se blitsige regterhou baie meer effektief as die swaargewig (Fidji) se oorgeruste en lomp vuishou.

Om die wedstryd in ’n neutedop op te som: Fidji het hul teenstanders onderskat en duur daarvoor betaal.

Die Suid-Amerikaners het ’n gemaklike voorsprong van 27 – 17 opgebou te danke aan drie drieë vóór rustyd. Om dié prestasie in perspektief te plaas: Hulle kon in hul ganse 2015-Wêreldbekerveldtog net twee drieë druk.

Daarteenoor was die eilandmanne dalk té oorgerus en het gereeld foute gemaak waaruit Uruguay munt geslaan het.

Hoewel Fidji se Nikola Matawalu ’n drie in beseringstyd gedruk het om ’n bonuspunt vir sy span in te palm, het die dag aan Uruguay behoort.

“Ek is ontsettend trots op my land,” het ’n emosionele Garamara ná afloop van die wedstryd gesê.

“Ons het hoegenaamd nie die grootste spelers nie, maar julle kan sien wat ons kan vermag as alles reg verloop. Ek hoop almal kon vandag die passie sien waarmee ons gespeel het; ek wil hê vandag moet nooit eindig nie!”

Uruguay se Felipe Berchesi het sy gô uitgespeel en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het 12 keer die bal gedra, was in die kol met 86% van sy skoppe en het agt suksesvolle duikslae uitgevoer.

Puntemakers:

Uruguay: Drieë: Santiago Arata, Manuel Diana, Juan Manuel Cat. Strafskoppe: Berchesi (3). Doelskoppe: Berchesi (3).

Fidji: Drieë: Mesulame Dolokoto, Eroni Mawi, Api Ratuniyarawa, Nikola Matawalu (2). Doelskop: Josh Matavesi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Fidji het duidelik ‘n skopper nodig. 5 uit 6 skoppe gemis! Maar simpatie met Fidji wat 2 wedstryde in 4 dae moes speel. Dis darem nie reg nie.

Frans C ·

Dit is ‘n probleem vir die meeste spanne en daarom het Fiji 12 nuwe spelers ingespan. Jy is reg,jy kan nie 5 driee druk nie en dan net een verdoel en dan strafskoppe ook mis nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.