UWK en Jong Tukkies kraai koning; Vishuis soek nóg ʼn titel

UWK – 2017 se Varsityskildwenners (Foto: Luigi Bennette/Saspa)

Die Varsityskild het ’n nuwe tuiste gekry, terwyl Tuks hul Young Guns-kroon in die Varsity-rugbyreeks behou het.

UWK hardloop weg met Fort Hare

Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) is Maandagaand in Bellville as die 2017-Varsityskild-kampioen gekroon toe hulle op ’n drafstap met 45-2 met die Universiteit van Fort Hare (FH) afgereken het.

In ’n eensydige kragmeting waarin die tuisspan ses keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier het, het die Kapenaars gewys dat hulle hul oë op die 2019-Varsitybekerreeks het.

Elke twee jaar kom die span wat laaste in die Varsitybekerreeks eindig in ’n promosie/relegasiestryd teen die boonste span op die Varsityskild-punteleer te staan.

Vir die Kapenaars sal die titel ’n soet oorwinning wees ná hul afranseling teen Wits in verlede jaar se eindstryd.

Die Varsityskild, wat die liga net onder die Varsitybeker is, is vanjaar tussen sewe spanne beslis, met Rhodes-Universiteit en die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie wat die eerste keer aan die kompetisie deelgeneem het.

Puntemakers –

UWK (21) 45: Drieë: Michaine Fick, Herschel Jantjies 2, Ishmaeel Schroeder 2, Andre Manuel. Doelskoppe: Aidynn Cupido 5.
FH (0) 2: Strafdoel: Sergio Christian.

Tuks bly koning in Young Guns-kompetisie

Tukkies se o.20’s – weer die kampioenspan (Foto: Twitter/Varsity Cup)

In ’n wedstryd wat tot op die einde in die weegskaal was, het Tukkies se Young Guns hulle kroon behou toe hulle die Maties naelskraap met 42-37 geklop het.

Die Pretorianers, wat sedert die instelling van dié kompetisie in 2012 tussen universiteite se o.20-spanne net in 2014 nie die titel verower het nie, het gesweet om die Stellenbossers te klop.

Met rustyd was die telling nog gelyk maar op die einde het die Pretorianers genoeg gedoen om hulle titel te behou.

Puntemakers –

Tuks: [21] 42 Drieë: Zandré Kruger, Ettiene Janeke, Earl Douwrie, Litha Nkula 2, strafdrie. Doelskoppe: Theo Boshoff 4.
Maties [21] 37: Drieë: Troy Payne, Matt Dahl, Shane Farmer, Brad Kiewitz, JP Duvenhage. Doelskoppe: Pierre du Toit 4.

♦  In die Varsityskild- en Young Guns-reeks is die puntetoekenning soos volg: drie: vyf punte, doelskop: drie punte, strafskop: twee punte en skepskop: twee punte.

Vishuis sal Patria weer wil uitoorlê

Maandagmiddag in Pretoria sal Abraham Fischer-manskoshuis (Vishuis) van die Universiteit van die Vrystaat hulle vyfde Varsitykoshuis-kroon probeer verower wanneer hulle teen die NWU-Pukke se Patria te staan kom.

Die spanne het verlede jaar ook in die eindstryd teen mekaar gespeel, toe Vishuis as oorwinnaar van die veld gestap het.

In Februarie het Vishuis vir Patria gemaklik met 34-16 geklop, maar die Noordwesters sal van daardie neerlaag vergeet het en met die geloof op die veld draf dat hulle die Vrystaters kan klop.

Sonop van Tuks het vroeër vanjaar gewys dat Vishuis nie onstuitbaar is nie, toe hulle in die twee spanne se ligakragmeting koning gekraai het.

Afskop: 16:45

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.