Vaal Reefs, Klerksdorp soek ander weiveld

luiperds logoDie twee Luiperdsklubs wat verlede jaar in die Valke se Peregrine-liga meegeding het, het ander weiveld gaan soek.

Vaal Reefs en Klerksdorp se deelname vanjaar in die Griffons se Eerste Liga is Maandag deur Eugene Fourie, Luiperds Rugby (LR) se amateurrugbybestuurder, teenoor Pale Toe! bevestig.

Vaal Reefs het verlede jaar die halfeindronde van die Peregrine-liga gehaal, maar die uiteindelike ligawenner, Brakpan, het die span van Orkney heeltemal oorskadu en 76-7 gewen.

Philip van Rensburg, die hoofafrigter van Vaal Reefs, het destyds aan Pale Toe! gesê sy span het twee weke lank nie geoefen nie omdat Klerksdorp in die halfeindstryd sou speel. Die klub is eers die Donderdag voor die wedstryd in kennis gestel dat daar `n fout met die punteleer ingesluip het en Reefs die Saterdag teen die Panne moet speel. Hy het gesukkel om sy spelers bymekaar te kry en moes sonder `n paar gereelde beginspelers opdraf.

♦ Fourie sê die NWU Pukke speel weer, soos hulle nou al baie jare lank doen, in die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks; en Rustenburg Impala nes verlede jaar by die Blou Bulle.

Die meeste ligas skop op 2 April af.

Agt spanne ding in die Luiperds se Neserliga A mee. Benewens die huidige kampioen, Lonmin, is daar nog Potchefstroom-Dorp, Leeudoringstad, Vryburg, Lichtenburg, Mafikeng, Hartbeesfontein en Fochville.

Nege spanne speel in die tweedevlakreeks om die Jaap Steyn-beker: Koster, Zeerust, Westonaria, Ikageng, Potch Tigers, Stilfontein, Matlosana, Coligny en Rustenburg Warriors.

Die Luiperds het ook `n Ontwikkelingsliga (Mankwe, Orbit, Taletso, Taung AC, Potchefstroom AC, Blydeville en Tigers) en `n Myneliga (Mighty Greens, Savuka, Harmony, Driefontein, Kloof en Impala).

Die finale bepalings word binnekort verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.