Valke: ERU klop ou vyand op sopnat veld

East Rand United (ERU) het Saterdag een van sy ou vyande uit die klub se dae in die Valke se Merlinliga op ʼn sopnat veld geklop.

Die Reigerparkse span het Sasolburg met 22-3 verslaan nadat hy rustyd met 7-3 voorgeloop het.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê almal het verwag dat dit ʼn harde wedstryd sou wees omdat dié twee spanne altyd goeie rugby speel.

“ERU het ook geweet Sasolburg sou 10-manrugby speel, omdat hy groot voorspelers het. Dit het deurentyd gereën en die nat toestande het Sasolburg bevoordeel.

“Die spanne het mekaar behoorlik voorlangs opgekeil, en ERU het sy man gestaan teen die swaarder teenstanders.

“Die nattigheid het hom verhoed om sy normale hardlooprugby te speel. Daar was baie hanteerfoute as gevolg van die nat en glibberige bal.”

Booysen sê die Oos-Randers kon darem drie keer agter Sasolburg se pale gaan kuier, en die afrigtingspan is tevrede met dié vertoning in ongunstige omstandighede.

Yster

Jonathan Botha, die haker van ERU, was die speler van die wedstryd.

“Hierdie yster het behoorlik onder die swaarder voorspelers van Sasolburg ingeklim. Hy het ERU telkens met sy kragtige lopies oor die voordeellyn gevoer, en sy verdediging was rotsvas. Hy is met ʼn skitterdrie beloon.”

Benewens dié drie het Gamat Ndanda en Clayton Gindan vir ERU gedruk. Andy Huysamen het met twee doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag.

Die Reigerparkers se tweede span het met 25-10 (rustyd 5-5) en die o.21-span met 45-0 (rustyd 21-0) gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.