Valke: klubs sak in hul 30-talle op Delmas toe

delmasRugbyklubs sak jaarliks in hul dertigtalle op Delmas toe wanneer dié klub sy gewilde jaarlikse rugbydag aanbied.

Tommy Cottle, die voorsitter van die gasheerklub, sê daar was verlede jaar 32 spanne en tot 38 het al aan die dag deelgeneem.

Dis die sewende keer dat die dag plaasvind en Cottle sê klubs van regoor die land is welkom. Dis vanjaar 27 Februarie en daar is nog plek vir belangstellende spanne.

Boksburg, Springs, NWU Vaaldriehoek, Sasolburg, Benoni, Heidelberg (almal Valke), Bronkhorstspruit (Blou Bulle), Mogol (Limpopo Blou Bulle),

Sasol van Secunda (Pumas) en `n Babarians-uitnodigingspan het reeds hul deelname bevestig.

Cottle sê dis `n groot gebeurtenis in die streek, want vir `n plattelandse dorp om soveel spanne bymekaar te kry, bly iets besonders.

Sake word vanjaar bemoeilik deurdat van die bonde vroeg in die seisoen met reekse begin.

“Dit beteken net ons moet verder vir deelnemers gaan soek, maar dis steeds `n lekker uitdaging.”

Daar word beplan om van vroeg af al rugby te speel.

“Ons gaan vanjaar `n bietjie vermaak ook hê met Armand Hofmeyer wat die dag kom bywoon. Daar gaan stalletjies wees waar mense iets te koop en drinke kan geniet,” sê Cottle.

Klubs landwyd wat in die feestelikheid wil deel, kan met Cottle by 083 390 1449 of [email protected] in verbindng tree.

ERUembleem♦ East Rand United (ERU) van Reigerpark het die afgelope naweek die Universiteit van die Witwatersrand met drie spanne besoek en in al drie gevalle met die studente klaargespeel.

Die eerste span het 33-26 gewen (rustyd 15-13), die tweede span 39-21 (10-10), en die o.20-span 22-14 (15-14).

Colin Booysen, die klub se spanbestuurder, berig die afrigtersspan van ERU is hoogs beïndruk deur die diepte in die spanne.

“Daar is o.21- en tweedespanspelers wat Saterdag `n duidelike boodskap aan die eerstespanafrigter en -spelers gestuur het: ‘Ek hoort in die eerste span’.”

ERU se volgende vriendskaplike wedstryd is Saterdag 20 Februarie teen Raiders (Goue Leeus).

Booysen sê hulle verwag `n taai stryd teen die span van Industria, wat al meer as een keer die Leeus by die nasionale klubkampioenskap verteenwoordig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.