Valke, OP se Goue Beker-klubs bekend

Met die Valke en die Oostelike Provinsie se deelnemers aan die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker beklink, is net twee deelnemers nog nie bepaal nie.

Die Boland se eindstryd vind Saterdag plaas, en val saam met die Suidwestelike Distrikte se halfeindronde.

Vereniging sal die Valke verteenwoordig nadat hy Saterdag in ʼn rillerstryd met 26-24 (rustyd 13-11) met East Rand United (ERU) in dié bond se Peregrineliga afgereken het; en Progress van Uitenhage se sege van 18-12 oor Park van Port Elizabeth in die OP se reeks om die Grootuitdaagbeker verseker dat hy dié bond sal verteenwoordig.

Valke

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, laat weet ʼn gevaarlike duikslag het sy span gekelder in wat hy bestempel as ʼn “riller soos min”.

“In ʼn wedstryd wat heeltyd wipplank gery het, het Vereeniging in die 80ste minuut ʼn strafskop oorgeklits om die wedstryd te wen.

“ʼn Gevaarlike duikslag in die 73ste minuut op ERU se vuurvreter-kaptein, Fanie van Staden, het ʼn enorme uitwerking op die wedstryd gehad.

“Op daardie stadium was ERU met 24-16 voor; op die voorvoet, en ʼn geskiedkundige oorwinning was in sig.

“Die fanatiese ERU-ondersteuners en die hele pawiljoen het na asem gesnak toe Van Staden, wat vir die bal gespring het, se voete onder hom uitgeneem is, en hy op sy nek en skouer met die aarde kennis gemaak het.

“Ná behandeling op die veld is hy met die mediese motortjie van die veld geneem, en die Vereeniging-speler het ʼn rooikaart gekry.”

Booysen sê een swaeltjie maak nie ʼn somer nie, maar hierdie swaeltjie (Van Staden) het die vermoë gehad om sy troepe kalm te hou in strawwe en gelykop wedstryde.

“Hy het dit die hele seisoen gedoen, veral in die halfeindstryd teen Brakpan.

“Soos ʼn ERU-ondersteuner opgemerk het: ‘Ek speel eerder met Fanie teen 17-man as wat ek sonder Fanie teen 13-man speel’.

“Nadat sy inspirerende kaptein die veld verlaat het, het ERU die kluts kwytgeraak, en die wedstryd met 24-26 verloor.

“Vereeniging se bestuur en die betrokke speler, wat baie emosioneel was, het ware sportmangees getoon en nederig om verskoning kom vra oor die voorval.”

Booysen sê ERU se bestuur en afrigterspan het Vereeniging geluk gewens met sy oorwinning.

“Hulle het die ondersteuners en spelers bedank vir die ondersteuning en opofferings die afgelope jaar. Hulle is trots op die span wat 24 maande gelede deel geword het van die topliga van die Valke-rugbyunie (VRU).

“Niemand het verwag dat ERU binne dié tydperk die naasbeste span in die VRU sal wees nie.”

Waylon Thompson, ERU se kranige senter, het ʼn uitstekende wedstryd beleef, en is as sy span se speler van die wedstryd aangewys.

“Hy het Vereeniging slapelose nagte op die verdediging besorg. Op die aanval was hy ook ʼn doring in die wenspan se vlees. Hy het die aanvoorwerk in albei ERU se drieë gedoen.”

Tiaan Ramat het die drieë afgerond, en Andy Huisamen het 14 punte met ʼn doelskop en vier strafdoele behaal.

Vereeniging het die o.21-eindstryd selfs meer naelskraap met 41-40 gewen.

Meyerton, die Valke se Kestrelkampioen. (Foto: Maryke Slabbert)

Kestrelliga

Meyerton het die VRU se Kestrelliga gewen deur sy ou vyand, die Buffels van Grootvlei, in die eindstryd met 15-7 te verslaan (rustyd 10-7).

Anthony Lloyd, die voorsitter van Eurolux Meyerton Knights United, laat weet “die wedstryd was hard en die senuwees gedaan”.

Hy sê geeneen van die spanne het vir die ander teruggestaan nie, en die voorhoedes het mekaar deeglik laat les opsê.

Gebiedsvoordeel is in die tweede helfte kwaai afgewissel en die spanne het om die beurt druk op mekaar uitgeoefen, berig Lloyd.

Meyerton het die wedstryd in die 70ste minuut finaal beklink.

Lloyd het die hoofafrigter, Alwyn du Plessis, en die spelers lof toegeswaai vir hul harde werk deur die jaar, en die borge en ondersteuners vir hul bydrae bedank.

Boland

Die Boland gaan vanjaar ʼn splinternuwe Grootuitdaag-kampioen kry.

Hawston, die verdedigende kampioen, het reeds in die kwarteindronde in die stof gebyt, en Villagers Worcester, wat die kroon die vorige paar jaar gedra het, is Saterdag met 44-26 deur Roses United van Wellington uitgeskakel.

Die Springbok Cornal Hendricks het ʼn driekuns vir Roses behaal.

In die ander halfeindstryd het Robertson vir Hillcrest United, ook van Wellington, met 58-39 verslaan.

Die wenmarges is opvallend groter as wat die afgelope paar jaar in die Bolandse uitspeelwedstryde die geval was, en dit wil op die oog af voorkom of die reeks besig is om sy mededingendheid in te boet.

Robertson en Roses spook die eindstryd Saterdag 16:00 in die Bolandstadion op Wellington uit.

Die puntemakers –

Roses United 44 (32) – Drieë: Cornal Hendricks (3), Rowen Rana (2), Tyrone Abelse. Doelskoppe: Jacquin Jansen (3), Johwen Lewis. Strafdoele: Jacquin Jansen (2).

Worcester 26 (7) – Drieë: Egan Uren (2), Morné Boshoff, Gershwin Africa. Doelskoppe: André Swanepoel, Yazeed Johnson (2).

Robertson 58 (22) – Drieë: Johan Stefanus (2), Earl Snyman (2), Lorenzo Baardman, Senan van der Merwe, Liam Louw, Collin Willemse. Doelskoppe: Collin Willemse (6). Strafdoele: Collin Willemse (2).

Hillcrest 39 (15) – Drieë: Geoffrey Allies (3), Dylan Maart, Kyle Marthinussen, Carlo van Greunen. Doelskoppe: Wheedon Jooste (2), Edward McCarthy. Strafdoele: Wheedon Jooste.

Goue Leeus

Dis maar weer die Universiteit van Johannesburg (UJ), die verdedigende meermalige kampioen, teen die NWU Pukke, insgelyks ʼn meermalige kampioen, Saterdag in die eindstryd van die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks.

Die UJ het Raiders, die bond se beste oop klub en vanjaar se Goue Beker-deelnemer, gerieflik met 39-22 in die halfeindronde verslaan, nadat hy ʼn rustydagterstand van 9-10 te bowe moes kom.

In die ander halfeindstryd het die Pukke die Universiteit van die Witwatersrand met 55-27 oorrompel.

KwaZulu-Natal

Die eindronde van die KwaZulu-Natalse uitklopreeks om die Murraybeker word eweneens Saterdag uitgespook tussen die twee spanne wat die bond se klubrugby die afgelope paar jaar oorheers.

Die verdedigende Murraybeker-kampioen, Durban Collegians, het Amanzimtoti in die halfeindronde met 44-12 opgedreun; en die Moorbekerhouer (Premierliga), College Rovers, het Varsity College met 65-20 opgefrommel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.