Valke: trane rol toe hardebaard begrawe word

ERUembleemDit was eers in die doodsnikke van die wedstryd, maar East Rand United (ERU) het Saterdag nog `n hardebaard op “Die Begraafplaas” in Reigerpark begrawe.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, berig trane van blydskap het gevloei nadat ERU vir Springs, een van die gunstelinge om die Valke se Peregrineliga-Top6 te wen, geklop het.

Hy het die kragmeting 28-26 gewen, nadat die besoekers rustyd 14-10 voor was.

Booysen sê dit was `n harde wedstryd en die spanne het geen genade gevra of gegee nie.

“Die voorspelers het mekaar behoorlik opgekeil en die agterspelers het mekaar geen ruimte gegee nie.

“Voorlangs het Springs effens die oorhand gehad, veral in die skrums. Agterlangs het ERU weer begin lyk na die span wat verlede jaar die wêreld aan die brand gespeel het.

“In teenstelling met die wedstryd twee weke gelede teen Boksburg het hierdie skeidsregter die wedstryd baie goed hanteer en was hy konsekwent.”

Hy sê ERU se vertoning vanjaar in die topliga is `n pluimpie vir `n span wat twee jaar gelede (2014) laaste in die Kestrelliga was, wat die laagste Valkeliga is.

Booysen sê Duane Browne is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het die laaste strafskop, wat die wedstryd beklink het, ná amptelike speeltyd oorgeskop. Daar was baie druk op hom nadat hy drie maklike strafskoppe tydens die wedstryd misgeskop het.

Marion Nqweniso, Monde Kinana en Theo Rhodes het het ERU se drieë gedruk. Brown het met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag. Clayton Gindan het `n skepdoel deur die pale gestuur.

Vir Springs het Hennie Smit (twee), Wynand Venter en Dowayn Botha drieë gedruk. Dewald van Niewenhuis het drie daarvan verdoel.

ERU se tweede span het 12-5 en die o.21-span 59-24 gewen.

Meyerton op die aanval teen Edenvale. (Foto: Anthony Lloyd)

Meyerton op die aanval teen Edenvale. (Foto: Anthony Lloyd)

Kestrelliga

Eurolux Meyerton Knights United se wegholsege van 50-12 oor Edenvale Panthers plaas hom boaan die punteleer in die Kestrelliga, al het hy en Edenvale – tot Saterdag die voorloper – ewe veel ligapunte.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, sê anders as wat die telling kan voorgee, was dit `n titaniese stryd tussen die twee voorlopers in die liga.

“Dit was besonders vir ons om die bordjies te verhang nadat Edenvale ons vroeër vanjaar op hul tuisveld `n loesing gegee het.”

Lloyd sê al was dit `n volkome spanpoging aan Meyerton se kant, het Awie Vermeulen (skrumskakel) Jessie Forbes (losskakel) en die stutte Tommy Theron (vaskop) en Johan van der Watt (loskop) uitgemunt.

Forbes het 20 punte opgestapel deur `n drie te druk en met ses doelskoppe en `n strafdoel te slaag.

Vermeulen en die flank Juandré van der Sandt het elk twee drieë vir die wenspan gedruk, en Shawn Prinsloo (regtervleuel), Ruan van Tonder (buitesenter) en Conrad Swanepoel een elk.

Ander uitslae –

Peregrineliga-Top6

Eerste spanne

Brakpan 50, Vereeniging 10.

Tweede spanne

Vereeniging 15, Brakpan 8.

O.21-spanne

Vereeniging 27, Brakpan 22.

Merlinliga

Eerste spanne

Nigel 59, Benoni 15; Sasolburg 47, Kemptonpark 24.

Tweede spanne

Benoni 32, Nigel 12; Sasolburg 15, Kemptonpark 14.

O.21-spanne

Nigel 57, Vanderbijlpark 12; Sasolburg 19, Kemptonpark 7.

Kestrelliga

Vanderbijlpark 43, Elsburg 27; Oos-Randse Polisie 57, Edenpark 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.