Valkeliga: blaser verdwaal, maar Buffels hou koers

Johan (Kat) van der Watt druk ʼn drie vir Meyerton teen Vanderbijlpark. (Foto: Maryke Slabbert)

Die wedstryd het laat begin omdat die skeidsregter op pad Grootvlei toe verdwaal het, dog het dit die plaaslike Buffels allermins van koers gebring.

Die tuisspan het die Edenvale Panthers in die Valke se Kestrelliga oortuigend met 38-12 op sy plek gesit.

Gouws Booyens, die wenspan se voorsitter, sê dit was ʼn klipharde wedstryd, maar die Buffels het van die afskop af oorheers.

Die klub lê tans tweede in die Kestrelliga se topvyf.

Danie Dempskey (slot), PJ Crawford (skrumskakel), JP Adlem (losskakel), Gerhard Botha (senter), Juan Wucherpfenning (regtervleuel) en Hendrik van Niewenhuizen (heelagter) het die Buffels se drieë gedruk.
Pitso Moloi (senter) het met vier doelskoppe geslaag.

Die Buffels se laaste wedstryd voor die halfeindstryd is 29 Julie teen Vanderbijlpark op dié se veld.

♦ Intussen het Meyerton vir Vanderbijl met 49-11 opgedreun, om van ʼn tuishalfeindstryd seker te maak.

Anthony Lloyd, die voorsitter van Eurolux Meyerton Knights United, sê dit het net tien minute geduur waarin die spanne mekaar gemeet het, voordat Meyerton se voorspelers die oorhand met goeie balbehoud en dryfwerk gekry het.

“Die wind het ʼn groot uitwerking op taktiese skoppe gehad.

“Toe die bal egter agtertoe begin vloei, het die agterlyn uitstekende spel gelewer, en het Meyerton sewe drieë teen een aangeteken.”

Shawn Prinsloo (regtervleuel, twee), Conrad Swanepoel (binnesenter), Grant Forbes (skrumskakel), Donovan Mitchell (slot), Johan van der Watt (vasskopstut) en JC Visagie (losskopstut) het die wenspan se drieë gedruk.

Michael Bosman (buitesenter) het vier verdoel en met twee strafdoele geslaag.

Prinsloo se 14 drieë tot dusver is die meeste in vanjaar se Kestrelliga.

Die span speel Saterdag sy laaste rondomtalie-wedstryd weg teen Oos-Rand Polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.