Valkeliga: Brakpan behaal tweede honderdtal

brakpanBrakpan het die tweede opeenvolgende Saterdag in die opstellende ronde van die Valke se Peregrineliga `n honderdtal op die rugbyveld behaal.

Nes die vorige Saterdag teen Sasolburg het die Panne 15 drieë op die Bosmanstadion teen Nigel gedruk om 108-3 te wen. Sasolburg is 103-3 geklop.

Die tweede span het Nigel 31-7 verslaan en die o.21-span het 58-0 gewen.

Harry Nieuwenhuis, die voorsitter van Brakpan, sê sy voorspelers het totaal oorheers en baie geleenthede vir die agterlyn geskep – “veral die agterste driehoek was baie goed en het die Nigelmanne stukkend gehardloop”.

Hy sê Jaco Lotter en Vernon du Preez het voor veel verrig en agter was Jean Botha en Tinus Ueckerman uitmuntend.

Botha (vier), Ueckerman (drie), Bones Robbertse, JP Snyman, Theo Becker, Duane Morrison, Gido Horn, Lotter, Sean Botes en Neil van der Walt het die drieë gedruk. Ashley Buchler het tien verdoel (20 punte) en Horn die ander vyf (15 saam met sy drie).

Die eerste span het dusver vanjaar in drie wedstryde 269 punte aangeteken en slegs 9 afgestaan.

Nieuwenhuis sê die klub speel nie die volgende twee weke nie en is op soek na wedstryde vir sy o.21-span in dié tyd.

boksburg-logo♦ In nog `n wedstryd in dié reeks het Boksburg sy buurman East Rand United (ERU) 19-12 geklop. Die rustydtelling was 5-5.

Danie Matthee, Boksburg se voorsitter, sê die groot verskil was Boksburg se vaste vyf wat hard in die vaste fassette gewerk het. “Voorts het Boksburg die skrums en lynstaane oorheers en die manne het hulle lywe op die spel geplaas.

“Agterlangs was Marcelle Fransman (senter) op sy stukke, terwyl ons kaptein en voorryman, Travis Howell, van voor af gelei en ook ons speler van die wedstryd was.

“Dit was ‘n ongelooflike spanpoging,” het hy aan Pale Toe! gesê.

♦ Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê daar was vuurwerk in die wedstryd en Boksburg het verdien om te wen omdat hy sy kanse beter benut het.

ERUembleem“ERU het sy kanse verspeel. Dominique Perries het sy skopskoene by die huis gelos.”

Linda Mono het `n drie vir ERU gedruk. Naas `n strafdrie het die ander punte van `n doelskop deur Clayton Gidndan gekom.

Vir Boksburg het Petrus Beukes, Marcell Fransman en Gerhard Coetzee drieë gedruk. Kyle Hilton het twee verdoel.

Boksburg se tweede span het 20-15 gewen, en ERU se o.21-span 31-26.

Booysen sê ERU moet nou na die tekenbord terug gaan.

“Hulle bly positief om hierdie seisoen goed in die topliga van die Valke-rugbyunie te vaar.”

Die klub se volgende wedstryd is op 2 April teen Springs op dié se tuisveld.

kempton wolwe♦ Die NWU Vaal het die Kempton Wolwe net-net 33-31 geklop met elkeen van die spanne wat vyf drieë gedruk het.

Die tweede spanne het 17-17 gelykop gespeel en Kempton se o.21s het 29-10 gewen (vier drieë teen twee).

André Hartley, die Wolwe se voorsitter en mede-afrigter, sê die Kemptonmasjien was weer op dreef met `n briljante poging, en het in die lynstane en los spel oorheers.

Die NWU was op sy beurt bobaas in die skrums, maar dit was `n naelbytstryd.

Die studente het die gelykmakende drie in die doodsnikke aangeteken en dit was die doelskop wat die sege aan hulle besorg het.

Hartley sê die spelers het self erken dat al wat ontbreek fiksheid is en daar gaan die komende twee weke hard hieraan gewerk word.

André Smit, Jakes Kritzinger, Zack van Loggrenberg en Kobus Nel was die Wolwe se uitblinkers.

Hartley sê die tweede span het goed verdedig, maar daar haper eweneens iets met hul fiksheid.

Die o.21s was goed op dreef en het uit die staanspoor teen die studente oorheers.

“Die jong klomp begin vaste vorm kry en as hulle op stryk kom, gaan hulle vanjaar `n krag in die liga wees,” sê hy.

vut♦ Die Vaaldriehoekse Universiteit vir Tegnologie (VUT) het punte teen Vereeniging gegee.

Hannes Hattingh, die voorsitter van VUT, sê hulle het die vorige week `n paar beserings gehad en die studente skryf toetse en eksamen.

Kestrelliga

♦In die Kestrelliga het Meyerton gerieflik 27-6 teen Vanderbijlpark gewen.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, laat weet Ronnie Barry (flank), Michael Bosman (twee) (skrumskakel) en Johan van der Watt (stut) het sy span se drieë gedruk.

Jessie Vorbeg het twee verdoel en `n strafdoel bygevoeg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.