Valkeliga: dissipline kos ERU duur teen Panne

ERUembleemSwak dissipline het East Rand United (ERU) se kans om vir `n opskudding teen die Valkekampioen, Brakpan, te sorg verlore laat gaan.

Só laat weet Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, na aanleiding van die Panne se sege van 45-12 (rustyd 19-12) Saterdag in die opstellende ronde van die Peregrineliga in die Bosmanstadion, Brakpan.

“ERU het die klipharde wedstryd goed begin en in `n stadium 9-5 voorgeloop. Met die rustydtelling 19-12 in Brakpan se guns, het ERU `n goeie kans gestaan om vir `n opskudding te sorg.  Die span van Reigerpark het nog altyd sy beste rugby in die tweede helfte gespeel en hy is bekend vir sy kragtige terugvegpogings.

“In die 45ste minuut het ERU egter `n geel kaart gekry. Net ná die geel kaart (in die 55ste minuut van die wedstryd) was die skrif aan die muur toe ERU `n rooi kaart kry,” berig Booysen. “Om alles te vererger het sy vuurvreter-kaptein, Fanie van Staden, die veld  in die 65ste minuut met `n besering verlaat.”

Booysen sê om 35 minute lank met 14 man teen `n gehaltespan soos Brakpan te speel, het dit onmoontlik vir ERU gemaak om al die gate toe te stop.

“Brakpan het alle fassette oorheers en behoorlik sout in ERU se wonde gevryf. Hy het verdien om te wen.”

Hy sê ERU se bestuur en is teleurgestel in die span se dissipline en die feit dat die span nie sy tradisionele hardlooprugby gespeel het nie.

“Die span het onnodig balle weggeskop – iets wat gewoonlik nie gebeur nie. ERU  sal teruggaan na die tekenbord en goed voorberei vir sy laaste wedstryd in die eerste ronde, teen Kemptonpark Saterdag 4 Junie.

“ERU bly hoopvol om vir die topses in aanmerking te kom.”

Die klub se ster-buitesenter, Flex Bosman, was ERU se speler van die wedstryd. Sy plettervatte het Brakpan hoofbrekens gegee.

Cameron Lentoor het al ERU se punte met vier strafdoele behaal.

Benewens `n strafdrie is Brakpan se drieë deur Juan Botha (twee), Leon Potgieter, Jason Arundle en Vernon du Preez gedruk.

Ashley Buchler het 15 punte met drie elk doelskoppe en strafdoele behaal.

Brakpan se tweede span het 32-0 (rustyd 10-0) en die o.21-span 15-8 (3-3) gewen.

Meyerton Knights United (grys) in aksie teen Edenpark. (Foto: Anthony Lloyd)

Meyerton Knights United (grys) in aksie teen Edenpark. (Foto: Anthony Lloyd)

Kestrelliga

♦ Anthony Lloyd, die voorsitter van Eurolux Knights United van Meyerton, sê die Knights het Edenpark Saterdag 59-15 oorrompel.

Michael Bosman (heelagter, twee), Jacques de Lange (agsteman, twee), Jandré van der Sandt (flank, twee), Tyren Flynnn (slot) en Tommy Theron (loskopstut) het die wenspan se drieë gedruk.

Jessie Forberg het 19 punte ingeryg deur agt drieë te verdoel en met `n strafdoel te slaag.

Ander uitslae –

Peregrine-uitspeelliga

Eerste spanne

Vereeniging 65, Kemptonpark 26; Nigel 38, NWU Vaal 37;   Springs 38, Boksburg 22.

Tweede spanne

Vereeniging 48, Kemptonpark 14; Springs 22, Boksburg 22.

O.21-spanne

Vereeniging 33, Kemptonpark 14; NWU Vaal 27, Nigel 22; Springs 53, Boksburg 0.

Kestrelliga

Heidelberg 21, Elsburg 15; Edenvale Panthers 45, Buffels (Grootvlei) 21; Oos-Randse Polisie 31, Vanderbijlpark 12.

Opgesomde punteleer –

Peregrine-uitspeelliga

Brakpan 35, Springs 29, Vereeniging 28, Boksburg 24, ERU 18, NWU Vaal 18, Nigel 16, Kemptonpark 11, Sasolburg 8, Benoni 8.

Kestrelliga

Meyerton 35, Edenvale Panthers 28, Delmas 24, Buffels 19, Elsburg 15, Heidelberg 14, Edenpark 10, Oos-Randse Polisie 9, Vanderbijlpark 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.