Valkeliga: Elsburg se doppie klap teen Meyerton

Toe Meyerton begin hardloop moes Elsburg kwaai walgooi. (Foto: Riëtte Burger)

Toe Meyerton begin hardloop moes Elsburg kwaai walgooi. (Foto: Riëtte Burger)

Elsburg se doppie het Saterdag op Meyerton teen die tuisspan in die Valke se Kestrelliga geklap.

Meyerton het 38-12 gewen, nadat hy rustyd 17-5 voor was.

Anthony Lloyd, die voorsitter van Eurolux Meyerton Knights United, sê Elsburg het soos Titane weggespring omdat hy die wedstryd met `n bonuspunt moes wen om vir die halfeindronde in aanmerking te kom.

“Elsburg het die eerste helfte met sy agttal oorheers, maar die boordjies is in die tweede helfte verhang toe Meyerton se voorhoede die oorhand gekry en die bal wyd laat loop het.

“Jessie Forberg, Meyerton se losskakel, het sake op die aanval gedikteer en die speltempo verhoog.

“Hy het sy vaardighede skitterend benut en sy besluitneming was onbesproke.”

Ruan van Tonder (buitesenter), Henry van der Lith (binnesenter, twee), Kevin du Toit (skrumskakel) en Jandré van der Sandt (slot) het Meyerton se drieë gedruk. Forberg het vyf verdoel en `n strafdoel bygevoeg.

Lloyd sê Meyerton loop steeds voor in die Kestrelliga, en hoewel hy nog Saterdag tuis teen Edenpark moet speel, is dit `n uitgemaakte saak dat hy die week daarop in die halfeindronde op Meyerton teen Buffels van Balfour speel.

Ander uitslae –

Peregrineliga-Top6

Brakpan 61, Boksburg 20; Vereeniging 41, Springs 31.

Merlinliga

NWU Vaal 71, Kemptonpark 0.

Kestrelliga

Vanderbijlpark 45, Edenpark 8.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.