Valkeliga: ERU ‘begrawe’ ongetemde voorloper

Die voorloper in die Valke se Peregrineliga is die jongste slagoffer van East Rand United (ERU) se “Begraafplaas” in Reigerpark.

Die tuisspan het Springs, wat onoorwonne was, met 38-26 geklop, nadat hy rustyd met 25-14 voor was.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê Springs het besef dat dit ʼn l-a-n-g middag op die “Begraafplaas” gaan wees nadat ERU se o.21-span vir Springs met 56-12 met die kous oor die kop huis toe gestuur het.

“Om verder sout in die wonde te vryf, het ERU se tweede span Springs met 67-7 afgeransel.”

Hy sê ERU se bestuur en afrigters is in hul skik met die diepte in die klub, en die spanne se vertoning.

“Die dissipline was goed, en ERU het sy kenmerkende hardlooprugby gespeel en die hoog aangeskrewe Springs van sy voete af gehardloop.

“Al die tuisspan se drieë het in sy eie halfgebied begin,” sê Booysen.

“Die voorspelers het die grondslag gelệ, en veral in die skrums vir Springs ore aangesit.

“Op die verdediging het ERU die swaar voorspelers van Springs voos geduik.”

Booysen sê die hele span het goeie rugby gespeel, en elke speler het sy lyf op die spel gesit.

“Die afrigters is verheug dat die tweede ronde op ʼn hoë noot begin is, en vertrou dat die span daarop kan voortbou.

Cameron Lentoor en Tiaan Ramat het elk twee drieë vir die wenspan gedruk. Andy Huysamen het 18 punte met drie doelskoppe en vier strafdoele bygedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.