Valkeliga: ERU begrawe ook NWU Vaal-studente

Die NWU Vaal het Saterdag in die Valkerugbyunie (VRU) se Peregrineliga die jongste slagoffer van East Rand United (ERU) se “begraafplaas” in Reigerpak geword.

Die studente se neerlaag van 33-43 (rustyd 12-26) beteken dat hulle nie een van hul agt wedstryde kon wen sedert hulle aan die begin van die seisoen tot die reeks toegelaat is nie.

Brakpan, die bond se verdedigende kampioen, het die voorloper, Springs, oortuigend met 45-8 verslaan; en die tweede geplaaste Vereeniging moes spook om Boksburg met 12-5 te troef.

 Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê dit was die span se swakste vertoning van die seisoen, maar dis die teken van ʼn goeie span – dat hy wen selfs as hy van stryk af is.

“Die gevaarlike agterlyn het met stampe en stote gespeel en hulle kon nie behoorlik aan die gang kom nie. Tog is al ses die wenspan se drieë deur die agterspelers gedruk.

“Die voorspelers wat gewoonlik die fondasie vir die agterlyn lê, het ʼn swak dag beleef.”

Booysen sê ERU besef sy laaste twee wedstryde (teen Vereeniging en Brakpan) sal moeilik wees.

“Die finaliste van 2015 en 2016 gaan moeilike teenstanders wees, en die span van Reigerpark sal op sy beste moet wees indien hy wil wen.

“ERU se afrigterspan het twee weke om voor te berei vir Vereeniging op 15 Julie. Die kragmeting vind plaas op ERU se geliefde ‘begraafplaas’, die Reigerpark-sportterrein.”

Booysen sê Clayton Gindan, die bonkige heelagter van ERU, was die speler van die wedstryd.

“Sy verdediging het die studente slapelose nagte besorg. Hy was uitstekend op die aanval, en met sy ervaring het hy kalmte gebring vir sy spanmaats wat glad nie op dreef kon kom nie.”

Cameron Lentoor (twee), Tiaan Ramat, Jackie Jonkers, Igor Engelbrecht en Waylon Thompson het ERU se drieë gedruk. Andy Huysamen (vier) en Lentoor het vir doelskoppe gesorg, en Huysamen het ʼn strafdoel behaal.

ERU II het sy studente-eweknie met 36-0 oorrompel.

Opgesomde punteleer –

Springs 30, Vereeniging 28, Brakpan 28, ERU 24, Boksburg 15, NWU Vaal 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.