Valkeliga: ERU betaal duur vir swak dissipline

East Rand United (ERU) het Saterdag ʼn duur prys in die Valkerugbyunie (VRU) se Peregrineliga vir swak dissipline betaal.

Só laat weet Colin Booysen, die klub se spanbestuurder, ná die kragmeting op die Reigerpark-sportterrein teen Brakpan.

Die Reigerparkers was rustyd slegs met 27-31 agter, maar die verdedigende kampioen en Goue Beker-halfeinder het uiteindelik oortuigend met 52-35 gewen.

Booysen sê ERU het Brakpan die eerste halfuur van die wedstryd deurmekaar gehardloop en gerieflik met 24-10 voorgeloop.

“Al wat ERU-ondersteuner was, het geglo dat hulle die Valke-kampioen ʼn groot pak slae gaan gee.

“Toe kry een van ERU se voorspelers ʼn geel kaart in die 30ste minuut van die eerste helfte. Teen ʼn span van Brakpan se gehalte kan ʼn geel kaart vreugde in trane verander.

“Sy voorspelers het die oorhand gekry en met rolmaalbewegings drieë gedruk om sodoende [binne tien minute] die agterstand uit te wis, en die rustydtelling 31-27 in Brakpan se guns te maak.

“Die treurmare het in die tweede helfte voortgeduur toe ERU nóg twee geel kaarte gekry het.”

Brakpan het nog 22 punte aangeteken, en slegs agt afgestaan, om die eindtelling op 52-35 in sy guns te staan te bring.

Booysen sê die ligpunt is dat ERU getoon het hy kan enige span klop as hy sy dissipline opknap.

“Die drieë wat die span gedruk het, was uit die boonste rakke. ERU se flair het die skare op sy voete gehad.

“Die span besef egter dat begaafdheid alleen nie wedstryde wen nie, maar ook goeie dissipline.”

ERU se speler van die wedstryd was sy losskakel, Andy Huysamen, wat ʼn ware generaal was. Sy 25 punte het twee drieë ingesluit. Hy het drie elk doelskoppe en strafdoele met die voet bygedra.

Tiaan Ramat en Waylon Thompson het die tuisspan se ander drieë gedruk.

ERU II het met 25-10 en ERU o.21 met 52-17 gewen.

Janu du Toit, ʼn vleuel van Kemptonpark, druk een van sy drie drieë teen Nigel. (Foto: Angie van Loenen)

Skouspelagtig

♦ André Hartley, die voorsitter en afrigter van Edleen Spar Kempton Wolwe, laat weet die Wildehonde (die klub se eerstespan) se wedstryd teen Nigel in die Valke se Merlinliga was een van die skouspelagtigste van die seisoen en ʼn naelbytstryd regdeur tot die eindfluitjie.

Kempton het op die ou end met 35-31 gewen, en sy o.21-span was met 24-19 bo. Nigel II het Kempton II met 19-0 geklop.

“Die taai stryd is verwag deurdat Kempton se agttal verswak is vanweë spelers met werkverpligtinge en wat op die krukkelys is.

“Die span se verdediging het in ʼn klipharde tweede helfte gehou, veral toe albei spanne in die laaste 20 minute op hul stukke was.

“André Smit se skopskoen het die verskil gemaak en Nigel van ʼn sege weerhou. Kempton het ʼn bonuspunt verdien, en sy 69-puntsege teen Benoni plaas hom boaan die punteleer.”

Hartley sonder Janu du Toit (vleuel) vir sy driekuns uit.

“Nigel kon hom eenvoudig nie keer nie.

“Die agttal se verdediging en goeie voorvoet-balbehoud het Kempton se struktuur behou.”

Hy sê Nigel is ʼn hegte eenheid, en Kempton is in sy noppies met die wegsege, waar die weeromkragmeting tuis wag.

Die tweedespan het gesukkel om op dreef te kom,” berig Hartley.

“Bygesê, die bond se skeidsregter het nie opgedaag nie, en Nigel se afrigter het probeer blaas. Ons vat hom op die ken.”

Die tweedespan is ná afloop van die eerste ronde tweede in sy afdeling.

“Die o.21-span het met sy beproefde spelstruktuur die wedstryd en die afbreekpunte oorheers, maar die agterlyn het Nigel ʼn paar keer onnodig laat deurglip,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Hy het ʼn oproep op die gemeenskap van Kemptonpark gedoen om die klub se tuiswedstryde in die tweede ronde te ondersteun.

Meyerton se Shaun Scheepers (vleuel), die voorste puntemaker hierdie seisoen, probeer Riaan van Jaarsveld van die Buffels ontwyk. (Foto: Maryke Slabbert)

Wipplank

♦ Anthony Lloyd, die voorsitter van Eurolux Meyerton Knights United, sê dit was ʼn grootse kragmeting toe die Kestrelliga se voorste twee spanne, Knights en Grootvlei se Buffels, mekaar beetgekry het.

“Dit was eerlikwaar een van die beste wedstryde wat ek vanjaar op enige vlak gesien het.”

Meyerton het uiteindelik met 34-23 gewen.

Hy sê Meyerton en die Buffels se voorspelers het mekaar uit die staanspoor met mening aangedurf, en die wedstryd het wipplank gery met al twee spanne wat elke strafskop binne trefafstand pale toe gemik het.

“Albei spanne se verdediging was uitstekend en die manne het mekaar met mening gelak.

“ʼn Mens moes die opwinding beleef om dit te begryp. Daar was só min tussen die twee spanne te kies dat enigeen op die dag se spel kon wen.”

Ryan Verster (buitesenter) het 21 punte vir Meyerton aangeteken. Hy het ʼn drie gedruk en twee doelskoppe en vier strafdoele behaal.

Awie Vermeulen (skrumskakel), Ronnie Berry (flank) het Meyerton se ander twee drieë gedruk, en Michael Bosman (plaasvervanger-agterspeler) het met ʼn strafdoel geslaag.

JC Visagie (stut) was die beste voorspeler en Vermeulen die beste agterspeler.

Meyerton speel eerskomende Saterdag 16:00 tuis teen Edenvale Panthers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.