Valkeliga: ERU is Boksburg se topspan

East Rand United (ERU) van Reigerpark se sege Saterdag oor Boksburg in die Valkerugbyunie (VRU) se Peregrineliga vestig hom as dié stad se topspan.

ERU het met 48-35 as oorwinnaar uit die plaaslike derbystryd getree (rustyd 30-14), en is met ses ligapunte meer as Boksburg derde op die punteleer.

Vereeniging is tans die voorloper in die liga, en het nege punte meer as die verdedigende kampioen, Brakpan.

Colin Booysen, die wenspan se spanbestuurder, sê die oorwinning word nog merkwaardiger gemaak deur die feit dat Boksburg in sy eie agterplaas die kous oor die kop getrek is.

“ERU se o.21-span het die besoekers se dag goed afgeskop met ʼn wegholoorwinning van 97-0 oor die tuisspan. Sy tweede span het met 5-20 vasgeval, wat die tafel gedek het vir ʼn opwindende hoofwedstryd.

“Soos met enige derby is geen genade gevra of gegee nie. ERU, wat weer deesdae sy kenmerkende hardlooprugby speel, het die skare trakteer op vaart, vaardighede en flair van die boonste rak.”

Booysen sê Boksburg het geen antwoord gehad vir die besoekers se vermoë om van enige plek op die veld met die bal te begin hardloop nie.

“Vyf van die wenspan se ses drieë is deur agterspelers gedruk – en al die drieë is in ERU se eie halfgebied aangevoor.

“ERU se voorspelers verdien eweneens ʼn pluimpie vir die goeie balle wat die gevaarlike agterlyn ontvang het.

“Die bestuur en afrigterspan is opgewonde omdat die span deesdae die soort rugby speel wat almal van hom verwag.”

Booysen sê nadat ERU in die eerste ronde van die liga gesukkel het, speel hy deesdae met groter selfvertroue.

“Daar is nog harde werk wat voorlệ, en die span hoop om voort te gaan om goeie rugby te speel.”

Hy sê Cameron Lentoor het uitstekend gespeel, en is as die speler van die wedstryd aangewys.

“Hierdie spoedvraat het twee pragdrieë gedruk, en ʼn bydrae gelewer tot die drie van Jackie Jonkers.”

Die wenspan se ander drieë is deur Clayton Gindan, Fanie van Staden en Jan Harm Venter gedruk.

Andy Huysamen het 18 punte met drie doelskoppe en vier stafdoele behaal.

Opgesomde punteleer –

Peregrineliga

Vereeniging 31, Brakpan 22, ERU 18, Boksburg 12, NWU Vaal 11, Springs 6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.