Valkeliga: ERU laat Vereeniging groot skrik

East Rand United (ERU) het Saterdag verlede jaar se naaswenner in die Valkerugbyunie (VRU) se Peregrineliga groot laat skrik.

Die span van Reigerpark het rustyd op sy tuisveld – wat hoeka as die begraafplaas van besoekende spanne bekend staan – met 26-22 voorgeloop, voordat Vereeniging die stang vasgebyt, en met 44-38 gewen het.

In die ander twee wedstryde in dié liga het die verdedigende kampioen, Brakpan, met 54-12 teen die NWU Vaal geseëvier; en Springs het met 34-21 teen Boksbug gewen.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die wedstryd was hard en is in ʼn goeie gees afgehandel.

“Albei spanne het goeie rugby gespeel en elk ses pragdrieë gedruk. Die enigste verskil tussen die twee spanne was twee strafskoppe wat Vereeniging oorgeklits het.”

Hy sê Vereeniging het sy kanse beter benut, waar ERU in kritieke stadiums verkeerde besluite geneem het.

“ERU se afrigterspan is teleurgestel met die nederlaag, maar is trots op sy span wat met twee bonuspunte huis toe gegaan het.

“Al drie ERU se spanne is nog op koers na moontlike halfeindstryde.

“Die klub se o.21-span is nog onoorwonne, en die tweede span speel eweneens goeie rugby.”

Booysen sê die Reigerparkers besef dat die mededinging nie makliker raak nie, aangesien hulle eerskomende Saterdag vir hul laaste rondomtalie-wedstryd na Brakpan reis.

“Cameron Lentoor, ERU se blitsige vleuel, het ʼn uitstekende vertoning gelewer, en was die speler van die wedstryd. Op die aanval was hy soos gewoonlik op sy stukke, en hy het twee skitterdrieë gedruk. Hy het egter Saterdag getoon dat hy ook kan verdedig toe hy sy groter teenstander in die aarde in gedryf het.”

Die span se ander drieë is deur Tiaan Ramat, Jackie Jonkers, Fanie van Staden en Kholekile Bakumeni gedruk. Andy Huysamen het vier verdoel.

ERU II het Vereeniging II met 15-14 getroef; en die klub se o.21-span het sy portuur met 34-14 gelooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.