Valkeliga: ERU se kragtoer waarsku grotes

ERUembleemIn `n besondere kragtoer het East Rand United (ERU) gelykop gespeel teen verlede jaar se naaswenner van die Valke se Peregrineliga, nadat dié vroeër met die huidige kampioen klaargespeel het.

Die span van Reigerpark, wat verlede jaar nog in die Valke se Merlinliga gespeel (en dit gewen het), het Vereeniging tot `n gelykop uitslag van 16-16 in die Peregrine-uitspeelronde gedwing. Laasgenoemde wat rustyd 6-3 voor.

Gesien Vereeniging se onverwagse groot sege van 54-22 oor die kampioen, Brakpan, sal buitengewoon groot belangstelling in ERU se botsing Saterdag teen die Panne heers.

t Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die span is `n treetjie nader om te kwalifiseer vir die Peregrineliga se Top 6.  “ERU  bly nederig, en die span se selfvertroue is besig om te groei ná die gelykop uitslag op `n sopnat Vereeniging.  Die afrigterspan en spelers besef rugby word gespeel tussen vier lyne en teen 15 spelers.

“Met ‘n positiewe ingesteldheid kan `n mens enige span (selfs Vereeniging) met die kous oor die kop, oftewel met slegs twee punte, huis toe stuur.

“In hierdie klipharde wedstryd kon elke span slegs een drie druk. Dit het deurgaans gereën en daar was min sprake van skouspelagtige hardlooprugby.”

Booysen sê die twee stelle voorspelers het mekaar behoorlik opgekeil en ERU het sy man gestaan.

“Vereeniging se kenmerkende maal-en-dryfbewegings is met verdediging vandie boonste rak geneutraliseer.

“Met ERU se groot loskopstut, Reggie Thabethe, aan die voorpunt het Vereeniging nie `n antwoord gehad vir ERU se rotsvaste verdediging nie.

“In die skrums en lynstane het ERU nie `n tree terug gestaan vir sy meer ervare en swaarder teenstander nie.”

Hy sê die gevaarlike agterspelers van ERU het in die nat toestande nie tot hul reg kom nie.

“Daar was min geleentheid om met die bal te hardloop. Op die verdediging het veral ERU se buitesenter, Flex Bosman, verseker dat sy teenstanders in die middelveld `n lang middag op kantoor het.

Booysen sê hoewel die hele ERU-span soos tiere verdedig het, was Thabethe die speler van die wedstryd.

In die skrums was hy `n doring in Vereeniging se vlees en as verdediger het hy Vereeniging slapelose nagte besorg.”

Cameron Mentoor het 11 van ERU se punte met `n doelskop en drie strafdoele behaal, en Duane Brown het die drie gedruk.

Vir Vereeniging het Quintin Petzer `n drie gedruk wat deur Hendrik Smith verdoel is. Arno Poley het met drie strafdoele geslaag.

♦ Vereeniging se tweede span het 15-0 gewen (rustyd 10-0) en ERU se o.21s 24-10 (rustyd 14-3).

Ander uitslae –

Peregrine-uitspeelronde

Eerste spanne: Brakpan 61, Boksburg 16.

Tweede spanne: Brakpan 19, Boksburg 5.

O.21-spanne: Sasolburg 27, Vanderbijlpark 7; Brakpan 31, Boksburg 7.

Kestrelliga

Vanderbijlpark 15, Edenpark 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.