Valkeliga: groot kloof al hoe duideliker

Zach van Loggerenberg van Kemptonpark loop met die bal teen Springs (Foto: Angie van Loenen)

Zach van Loggerenberg van Kemptonpark loop met die bal teen Springs (Foto: Angie van Loenen)

Die kloof tussen die boonste en die onderste spanne in die opstelronde van die Valke se Pergrine liga raak al hoe opvallender al is die honderdtalle vir eers van die baan.

Brakpan het Benoni Saterdag 90-10 verslaan; Springs het 57-14 teen Kemptonpark gewen; Vereeniging het Nigel 54-14 geklop; en East Rand United het 45-5 teen die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) gewen in `n wedstryd wat voortydig gestaak is.

Sasolburg het darem sterk teenstand teen Boksburg gebied voor laasgenoemde 24-22 gewen het.

Vier spanne – Brakpan, Springs, Boksburg en Vereeniging – is tans nog onoorwonne.

Aan die bopunt van die punteleer het Brakpan 355 punte in vier wedstryde aangeteken en op die onderste sport VUT slegs 31 in drie wedstryde.

♦ Ondanks sy groot oorwinning van 57-14 moes Springs hard werk om die Kempton Wolwe sag te maak.

André Hartley, die Wolwe se voorsitter en mede-afrigter, berig Kempton het met mag en mening weggespring en Springs vroeg heelparty benoude oomblike laat beleef, maar gesukkel om geleenthede in punte te omskep.

Hy sê Springs het goeie struktuurrugby gespeel, maar Kempton was gereed daarvoor en het Springs in eie munt terugbetaal.

“Skoppe pale toe was net-net nie daar nie; die agterlyn het die verdediging `n slag met goeie voetwerk deurdring, maar die dekverdediging het die aanval gekelder.”

Hartley sê die stryd by die afbreekpunte was uiters fisiek, maar Kempton het sy man gestaan en volop omkeerbesit gewen.

“Die agterlyn was briljant toe Andries Kuhan (agsteman) `n goeie bal op die grond gewen het en Brian West (losskakel) die grondslag vir `n goeie drie deur die linkervleuel Ruan Venter gelê het. Die flank Kobus Nell het dit verdoel.

“Die manne was vol selfvertroue en die verdediging het gehou, maar `n baie fikse Springs se goeie hardlooplyne het dit deurentyd getoets.”

Op die ou end het Springs drie drieë voor rustyd gedruk.

Hartley sê Kempton was nog baie positief, maar Springs moes `n kwaai spanpraatjie rustyd gehad het en het na die blaaskans vaster gespeel voor hulle die bal wyd laat loop het.

`n Drie deur Springs kort ná rustyd het die Wolwe se moed gebreek, maar Zach van Loggerenberg het nog `n drie gedruk, wat deur Nell verdoel is.

Springs se tweede span het 28-12 gewen.

Hartley sê Kempton het aanvanklik die meeste fasette van die spel oorheers en die agterlyn het skoon balle ontvang, maar sy fiksheid het hom in die steek gelaat en toe Springs meer gestruktureerd speel, kon die Wolwe nie daarby aanpas nie.

Springs se o.20s het 67-3 gewen nadat onvoorsiene onttrekkings te wyte aan siekte en werkverpligtinge kort voor die afskop die span omver gegooi het. Daar was gevolglik niemand op die bank om as impakspelers aangewend te word nie.

“Die span sal vandeesweek hard werk en seker maak so iets gebeur nie weer nie.”

boksburg-logo♦ Danie Matthee, die voorsitter van die Uile, sê die wedstryd het goed begin totdat Boksburg weer in sy dop gekruip het en homself onder druk geplaas het met hanteerfoute en die afstaan van te veel strafskoppe.

“Sasolburg se pak was groot en swaar en het Boksburg as gevolg van die min balbesit heeltyd op die agtervoet en die verdediging gehou.

“Desnieteenstaande het Boksburg se voorspelers die volle 80 minute lank moedig teruggeveg.

“Dit was inderdaad `n ongelooflike poging deur al 15 Boksburgspelers op die veld.”

Matthee sê JP Joubert, Boksburg se binnesenter, het agterlangs geweldige slaankrag gebied met sy talle indrukwekkende lopies en duikslae.

“Die groot oomblik was egter toe PJ Beukes kop gehou het en die wenpunte met `n strafdoel ná `n ongeoorloofde duikslag op Boksburg se Dendré Strydom aangeteken het.”

Boksburg speel Saterdag op Nigel teen die tuisspan.

ERUembleem♦ In Reigerpark het ERU maklik 45-5 (rustyd 26-0) en 50-10 (10-7) teen VUT gewen. Die wedstryde is vroeër beëindig omrede die groot punteverskil tussen die spanne.

Colin Booysen, die tuisspan se spanbestuurder, sê ERU het sy kenmerkende hardlooprugby opgedis en sewe pragdrieë gedruk.

“ERU se afrigters is baie tevrede met die vertoning van die span. Die voorspelers het verseker dat die gevaarlike agterspelers balbesit van gehalte kry.

“Die speler van die wedstryd is die skrumskakel, Cameron Lentoor, wat baljaar en `n goeie diens aan sy agterspelers gelewer het. Hy het drie pragdrieë gedruk.

“Dit was goed om terug te wees by “Die Begraafplaas” in Reigerpark en die toeskouers het waarde vir hul geld gekry.”

Cameron Lentoor (drie); Jacky Jonkers (twee); Morné Badenhorst en Sakkie Klaas het die wenspan se drieë gedruk. Dominque Perries het vier en Duane Brown een verdoel.

ERU pak Saterdag weer sy aartsteenstander uit sy Merlinligadae, Sasolburg, wanneer hy die Vaalrivier soontoe oorsteek.

♦ Anthony Lloyd, die voorsitter van Kinghts United (Meyerton), laat weet die klub speel 19:00 Vrydag (15 April) op die veld van die Hoërskool Dr Malan op Meyerton teen die Buffels van Grootvlei.

Ander uitslae –

Peregrine-uitspeelliga

Tweede spanne: Boksburg 21, Sasolburg 15; Vereeniging 45, Nigel 3; Brakpan 55, Benoni 10.

Onder 21-spanne: NWU Vaal 24, Vanderbijlpark 5; Sasolburg 24, Boksburg 17; Vereeniging 55, Nigel 3.

Kestrelliga

Buffels (Grootvlei) 25, Vanderbijlpark 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.