Valkeliga: Kempton boos oor omstrede duikslag

Die omstrede duikslag op Ashley Fitz-Patrick. (Foto: Angie van Loenen)

Die omstrede duikslag op Ashley Fitz-Patrick. (Foto: Angie van Loenen)

Kemptonpark is bitter boos oor `n omstrede duikslag wat hy sê ongestraf gebly en `n drie deur Boksburg voorafgegaan het.

Boksburg het die wedstryd in die opstelronde van die Valke se Peregrineliga 31-24 gewen.

Danie Matthee, die voorsitter van Boksburg, sê die wedstryd het vinnig begin en dit het Boksburg op die agtervoet geplaas.

“Kempton het vinnig twee drieë gedruk, wat baie druk op Boksburg geplaas het.

boksburg-logo“Die wedstryd het egter `n ander wending geneem met `n stukkie individuele briljantheid van Boksburg se linkervleuel, JP Joubert, toe hy `n drie na `n lang lopie langs die kantlyn af gaan druk het.”

Matthee sê Boksburg se spelers was ná rustyd rustiger en geduldiger, en dit het 24 punte vir Boksburg in die eerste 20 minute van die tweede helfte opgelewer.

“Boksburg het egter weer in sy dop gekruip en ná `n paar beserings `n drie in die laaste minute van die wedstryd afgestaan,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Tyler Botha, eintlik `n flank wat Saterdag slot gespeel het, het die meeste van die donkiewerk gedoen en was Boksburg se speler van die wedstryd.

♦ André Hartley, Kemptonpark se voorsitter, glo swak beslissings deur die skeidsregter en sy assistente en twee geel kaarte in die tweede helfte het sy span die wedstryd gekos.

Hy het `n foto van `n duikslag op Ashley Fitz-Patrick aan Pale Toe! beskikbaar gestel en voeg by: “Die duikslag was oop en bloot en van alle kante sigbaar. Nog die skeidsregter, nog enige van sy assistente het daarop reageer en dit het tot Boksburg se laaste punte gelei.”

Pale Toe! het die foto aan `n ervare oudskeidsregter voorgelê en hy reken dis `n gevaarlike duikslag wat heel moontlik `n rooi kaart kon regverdig.

Hartley sê die eerste helfte het onteenseglik aan die Wolwe behoort.

Hy sê verkeerde keuses en `n gebrek aan fiksheid het Kempton se tweede span 19-33 laat verloor.

Die o.21-span het traag begin, maar toe hy sy voete vind en die wedstrydplan uitvoer, het dit vrug afgewerp.

“Die voorspelers was puik en het goeie voorvoetballe gelewer wat tot talle drieë en `n sege van 38-14 gelei het,” berig Hartley.

ERUembleem Springs het sy wedstryd in die opstelronde teen East Rand United (ERU) 31-21 gewen nadat hy rustyd 19-11 voor was.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, sê dit was `n klipharde wedstryd en Springs het gewen omdat hy sy kanse beter benut het.

“ERU het vroeg 6-0 voorgeloop nadat die losskakel, Clayton Gindan, twee strafkoppe oorgeskop het. Daarna het Springs `n strafdrie gekry en die telling was 7-6.

“ERU het maklike strafkoppe verbrou en swak besluite geneem, terwyl Springs elke geleentheid om punte aan te teken aangegryp het.”

Jacky Jonkers het `n drie vir ERU gedruk en die span het `n strafdrie gekry. Clayton Gindan het agt punte met `n doelskop en twee strafdoele behaal, en Cameron Lentoor het `n strafdoel aangeteken.

Booysen sê die ERU-afrigters is teleurgestel oor die nederlaag, maar  baie tevrede met die vertoning van die span.

“ Die voorspelers, met die kaptein, Fanie Van Staaten, aan die voorpunt, het hul man teen die hardebaarde van Springs gestaan.

“Die spelskepper Jacky Jonkers begin weer op dreef kom.

“Die span is in `n opwaartse kurwe, en soos die spreek lui: ‘Die liga word nie gewen `n dag ná Gekkedag nie’,” laat weet hy.

Springs se tweede span het 22-19 gewen, en ERU se o.21-span 26-10.

ERU se volgende wedstryd is Saterdag tuis teen VUT rugbyklub op die Reigerpark-sportgronde oftewel soos die manne dit plaaslik noem “Die Begraafplaas”.

Ander uitslae –

Peregrineliga (opstelronde)

Eerste spanne: Vereeniging 93, Benoni 21; Brakpan 54, NWU Vaal 14; Nigel 37, NWU Vaal 7.

Tweede spanne: Vereeniging 41, Benoni 7; Sasolburg 17, Nigel 13; Brakpan 24, NWU Vaal 19.

O.21-spanne: VUT 29, Vanderbijlpark 0; Sasolburg 31, Nigel 22; Brakpan 20, NWU Vaal 5.

Kestrelliga

Buffels 31, Oos-Rand Polisie 17; Heidelberg 23, Vanderbijlpark 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.