Valkeliga: Merlinhouer klim eerste trappie

ERUembleemDie Valke se Merlinliga-kampioen, East Rand United (ERU), het sy eerste trappie na `n plek in vanjaar se Peregrineliga geklim deur een van verlede jaar se senior klubs in die uitspeelronde vir Peregrinestatus te klop.

Die Reigerparkse klub het die NWU Vaal op Vanderbijlpark 39-20 ondergesit. Die rustydtelling was 29 -17 in ERU se guns.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die klub se heelagter, Dominique Perries. het 24 van die wenspan se 39 punte aangeteken. Dit sluit `n drie, vyf strafdoele en twee doelskoppe in.

Perries is tereg as die speler van die wedstryd aangewys.

Booysen sê een van die NWU Vaal se agterspelers het in die eerste helfte `n rooi kaart gekry nadat hy volgens die skeidsregter na een van ERU se spelers geskop het. Met 14 man sou dit moeilik vir die studente wees om die wedstryd te wen.

Die afrigterspan van ERU sou baie graag `n bonuspunt op die punteleer wou sien, maar is tevrede met die oorwinning.

Behalwe die puntemasjien, Perries, het Calvin Jantjies en Duane Brown drieë vir ERU gedruk en Cameron Lentoor het `n doelskop en `n strafdoel bygedra.

Vir die NWU Vaal het Steven Matsieng en Petrus Griessel drieë gedruk. Matthys Venter het met twee elk doelskoppe en strafdoele geslaag.

Die NWU Vaal se tweede span het 21-14 gewen en die Oos-Randers se o.21-span 74-0.

ERU speel aanstaande week op sy tuisveld teen sy buurman Boksburg.

Derbywedstryde sorg gewoonlik vir vuurwerk en hierdie sal geen uitsondering wees nie omdat `n sege vir elkeen van die spanne uiters belangrik is.

Boksburg is in `n herboufase wat einde verlede seisoen vrugte begin afwerp het; en `n plek in die Peregrineliga is vir ERU `n saak van eer.

André (Smittie) Smit stuur die Kempton Wolwe se agterlyn weg. (Foto: Angie van Loenen)

André (Smittie) Smit stuur die Kempton Wolwe se agterlyn weg. (Foto: Angie van Loenen)

♦ Die Kempton Wolwe het op hul beurt al drie hul wedstryde teen die Vaaldriehoekse Universiteit vir Tegnologie (VUT) oortuigend gewen en daarmee `n duidelike waarskuwing aan hul teenstanders gerig.

Die eerste span het 59-26 gewen, die tweede 43-5 en die o.21s 34-5.

André Hartley, die voorsitter van Kemptonpark, sê daar heers groot tevredenheid in die klub met al die spanne se pragtige uitslae.

“Dis die eerste keer in my jare by die klub dat ek voel die ou Kemptongees is terug en groot afwagting heers vir komende Saterdag se tuiswedstryd teen die NWU Vaal. Wel, amper tuis, want ons veld is vanweë grasonderhoud met die oog op die winter nog nie beskikbaar nie.

Hartley sê hy en sy mede-afrigter, Patrick van Loenen, is bly om al die ou gesigte terug in die eerste span te sien, en baie dankbaar vir die duidelike boodskap wat hulle Saterdag aan die teenstanders uitgestuur het.

Hy sê die tweede span was maar altyd sterk, maar die oudspeler Dick (Cappie) van Loggerenberg, wat as afrigter by die span aangesluit het, benut die krag ten beste.

Die o.21-span het by tye los getorring, maar het ná `n stukkie reguitpraat rustyd reggeruk en goed gekommunikeer.

buffelsKestrelliga

♦ Op Grootvlei het die Buffels vir Elsburg 36-10 in die eerste ronde van die Kestrelliga geklop.

Gouws Booyens, die wenklub se voorsitter, berig die Buffels het vier drieë teenoor Elsburg se twee gedruk.

Pitso Moloi van die Buffels het 16 punte met sy skoppe pale toe aangeteken.

Ander uitslae –

Peregrine-uitspeelliga

Eerste spanne: Springs 57, Nigel16; Boksburg 38, Benoni 10; Brakpan 103, Sasolburg 3.

Tweede spanne: Springs 14, Nigel 7; Boksburg 48, Benoni 0; Brakpan 22, Sasolburg 7.

Onder 21-spanne: Springs 78, Nigel 0; Sasolburg 19, Brakpan 13, Vereeniging 84, Vanderbijlpark 0.

Kestrelliga

Eerste spanne: Heidelberg 51, Edenpark 0; Meyerton 46, Oos-Randse Polisie 7; Edenvale Panthers 15, Delmas 11.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.