Valkeliga: Meyerton, Buffels dreun mekaar op

Meyerton se ysteragsteman, Attie Brits, werk met ʼn Vanderbijlpark-verdediger se gal. (Foto: Arno Burger)

Meyerton Knights en Grootvlei se Buffels is vroeg-vroeg besig om mekaar in die Valke-rugbyunie (VRU) se Kestrelliga op te dreun.

Albei het hul eerste twee wedstryde met bonuspunte gewen, en Meyerton se batige puntesaldo is slegs twee beter as die Buffels s’n, sodat hy ʼn kortkop voor op die punteleer is.

Die verdedigende kampioen, Edenvale Panthers, het tot dusver net een wedstryd gespeel en dié teen Vanderbijlpark verloor.

Eurolux Meyerton Knights het Vanderbijl Saterdag met 43-13 oorweldig, en die Buffels het Heidelberg met 44-22 gegaffel.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, sê die wedstryd op Vanderbijlpark het ʼn klipharde voorspelerstryd opgelewer.

“Knights se grootste uitblinker vir die dag was die haker Gerhardt (Bullet) van der Watt met sy uitmuntende dryfspel en kragtige stormlope met die bal in sy hande.

“Ek moet byvoeg dat al Meyerton se voorspelers skitterend vertoon het.

“Agter het Sean Scheepers (vleuel) ʼn driekuns met sy verbysterende vaart en breekslae behaal.”

Lloyd sê al was die wedstryd hard, was dit skoon en is dit in ʼn goeie gees gespeel.

♦ Gouws Booyens, die Buffels se voorsitter, berig Werner du Plessis is as die voorspeler van die wedstryd teen Heidelberg aangewys, en Hendrik van Niewenhuizen as agterspeler.

14 punte

Vir die Buffels het Werner du Plessis (agsteman) twee drieë gedruk, en Pitso Moloi (losskakel), Hansie Strydom (loskopstut), Anton Oberholzer (haker) en Van Niewenhuizen (heelagter) elk een.

Moloi het 14 punte aangeteken deur drie doelskoppe en ʼn strafdoel by sy drie te voeg.

In die eerste ligawedstryd vanjaar het die Buffels die span van Oos-Rand Polisie met 36-24 getroef.

Die klub se volgende wedstryd is 6 Mei teen Edenpark op die Buffelsveld, Grootvlei.

♦ Die VRU se Peregrine- en Merlinliga skop eweneens 6 Mei af.

Opgesomde punteleer –

Meyerton 10, Buffels 10, Elsburg 6, Heidelberg 6, Oos-Rand Polisie 6, Edenpark 5, Vanderbijlpark 5, Edenvale Panthers 0, Delmas 0, Katlehong Tigers -2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.