Valkeliga: Meyerton, Edenvale deur na eindstryd

Shawn Prinsloo druk `n drie vir Meyerton. (Foto: Riëtte Burger)

Shawn Prinsloo druk `n drie vir Meyerton. (Foto: Riëtte Burger)

Meyerton en Edenvale pak mekaar Saterdag in die eindstryd van die Valke se Kestrelliga.

Eurolux Meyerton United Knights het die Buffels van Balfour die afgelope Saterdag 41-27 op Meyerton geklop.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, sê dit was `n titaniese stryd tussen twee van die beste voorhoedes in die liga.

“Die Buffels het die eerste tien minute die oorhand gehad en is met `n pragdrie beloon. Die daaropvolgende 70 minute het die twee agttalle `n genadelode stryd om die botoon gevoer.

“Meyerton het egter met sy agterspel die die pas aangegee – die bal laat loop, en met goedgeplaaste kortskoppies op die regte tyd geweldige druk op die Buffels-agterlyn geplaas.”

Lloyd sê Meyerton het die laaste 20 minute skitterende hardlooprugby gespeel om die uitslag bo enige twyfel te stel.

Jacques de Lange (agsteman) en Lucas Steyn (stut) was Meyerton se beste spelers.

De Lange (twee), Tyren Flynn (slot), Gerhard van der Watt (haker), Hendry van der Lith (binnesenter) en Shawn Prinsloo (regtervleuel) het Meyerton se drieë gedruk. Awie Vermeulen (skrumskakel) en Ruan van Tonder (losskakel) het elk twee verdoel en laasgenoemde het met `n strafdoel geslaag.

Lloyd sê Meyerton se puik tuisondersteuning en die spelers se harde wrek het dusver goeie vrug gedra.

Bekervreugde vir ERU o.21.

Bekervreugde vir ERU o.21.

Peregrine-o.21-liga

East Rand United (ERU) van Reigerpark se o.21-span is Saterdag as kampioen in sy afdeling gekroon nadat hy Vereeniging in die eindstryd 35-14 geklop het. Vereeniging was rustyd 14-10 voor.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die klub se juniors het `n week gelede Brakpan se o.21- span in die halfeindronde met die kous oor die kop huis toe gestuur om sy plek in die eindstryd te verseker.

“Vereeniging het goeie rugby in die eerste helfte gespeel en rustyd 14-10 voorgeloop. ERU het in die tweede helfte kenmerkend teruggeveg en Vereeniging begrawe.”

Booysen sê ERU se bestuur is baie trots op die span se vertoning, en baie opgewonde oor die toekoms van die klub wat met soveel talent spog.

“Nog `n voordeel is dat slegs ongeveer ses spelers die huidige groep gaan verlaat. Die ander is nog 19-20 jaar oud, wat beteken hulle is almal beskikbaar om aanstaande jaar die titel te verdedig.”

Hy sê omdat dit sy eerste seisoen in die Peregrineliga was, het niemand regtig vir ERU `n kans gegun nie.

“Die hartstog waarmee ERU gespeel het, het die deurslag gegee.”

Booysen sê die losskakel, Jeandré Lucas, verdien `n pluimpie vir die 20 punte wat hy aangeteken het. Dit sluit `n drie, drie strafdoele en drie doelskoppe in.

Ruben Jansen, JP Fleming en Michael Collins het die wenspan se ander drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.