Valkeliga: niemand wil in Nigel se skoene staan

Valke-logoNiemand wil Saterdag in Nigel se skoene staan as hy in die opstellende ronde van die Valke-rugbyunie (VRU) se Peregrineliga teen Brakpan te staan kom nie.

Die Valkekampioen het Sasolburg verlede week 103-3 oordonder en die groot vraag is of Nigel nog `n honderdtal kan afweer of nie.

Sasolburg kry darem kans om sy eer teen Benoni, wat meer sy gelyke is, te herstel – afhangende van die mate waarin die Panne sy moed gebreek het.

Die strafste stryd van die naweek beloof die derby tussen die buurspanne Boksburg en East Rand United (Reigerpark) te wees. Albei is goed op stryk en die spanne verloor nie graag teen mekaar nie.

Kemptonpark, wat die seisoen goed afgeskop het, kry teen die NWU Vaal die geleentheid om te toon of hy `n ernstige aanspraakmaker op Peregrinestatus is.

Verlede jaar se naaswenner, Vereeniging, het in die eerste ronde `n loslootjie gehad en speel Saterdag teen die Vaaldriehoekse Universiteit vir Tegnologie. Die studente behoort hom nie juis hoofbrekens te besorg nie.

♦ In die Kestrelliga behoort Heidelberg (teen Oos-Rand Polisie) en Buffels (teen Edenpark) hul plekke aan die bopunt van die punteleer te verstewig.

Die tweede geplaaste Meyerton speel teen Vanderbijlpark wat nog nie vanjaar in die liga in aksie was nie, en gevolglik nog `n redelik onbekende faktor is.

Onder toe behoort Delmas en Elsburg mekaar behoorlik op te dreun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.